Nuus 08:00
BULLETIN 2 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Build One South Africa gaan regstappe doen teen die regering om seker te maak die beurtkrag-beslissing word nagekom
# Equal Education dring aan op die hersiening van die BELA-wetsontwerp
# En, Joe Biden keur strafmaatreëls goed teen Israeli-setlaars wat van geweld op die Wesoewer beskuldig word
# Build One South Africa sê die regering loop gevaar om ‘n ligsinnige litigant te word. Die Hooggeregshof in Pretoria het die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, verlede maand beveel dat alle openbare gesondheidsinstellings, openbare skole en polisiekantore van beurtkrag uitgesluit moet word en 31 Januarie as sperdatum gestel. Die Departement van Openbare Ondernemings het ʼn dringende appèl teen die beslissing ingedien. BOSA se leier, Mmusi Maimane, sê hulle gaan regstappe doen om seker te maak die regering kom die hofbevel na.
# Die organisasie Equal Education versoek die regering om aandag te skenk aan bekommernisse in die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette voor dit gefinaliseer word. Openbare verhore oor die BELA-wetsontwerp is hierdie week afgehandel. Dit het ten doel om basiese onderwyswette by te werk, maar word gekritiseer omdat hy ouers en versorgers wat kinders nie skool toe stuur nie, moontlik ‘n misdaadrekord sal besorg. ‘n Regsentrum-navorser van Equal Education, Katherine Sutherland, vra die Nasionale Raad van Provinsies om sekere dele te wysig vir ‘n gebalanseerde onderwyswet:
# Die Ouditeur-generaal se kantoor sê beskuldigings dat hy nie die Ekurhuleni-munisipaliteit se 2022-2023-ouditverslag betyds ingedien het nie, is betreurenswaardig en misleidend. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Nkululeko Dunga, beskuldig die ouditeur-generaal se kantoor dat hy die proses om sy jaarlikse finansiële state aan die raad voor te lê, vertraag het deur dit nie by die munisipaliteit in te dien nie. Die kantoor sê die munisipaliteit se bestuur het in ʼn geskil met die nasionale ouditkantoor betrokke geraak oor hulle oudit se uitkoms, wat tot die vertraging gelei het.
# Amerika se president, Joe Biden, het ʼn uitvoerende bevel uitgereik wat gemik is op Israeli-inwoners wat betrokke is by geweld teen Palestyne in die Wesoewer. Sowat 370 Palestyne is in die gebied doodgemaak sedert Hamas Israel verlede Oktober aangeval het. Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake se woordvoerder, Matt Miller, sê die uitvoerende bevel stel finansiële sanksies en ʼn verbod op visums in teen vier individue wat betrokke is by voorvalle van geweld, asook dreigemente en pogings om Palestynse eiendom in die Wesoewer af te neem of te vernietig:
# Krieket: MI Cape Town het die Pretoria Capitals met 34 lopies verslaan in hulle SA20-kragmeting in Centurion. Ryan Rickelton wat die toernooi se voorste lopie-maker is, het 90 van 45 balle en ʼn aanvangsvennootskap van 64 lopies saam Rassie van der Dussen behaal. Dit het bygedra tot MI Cape Town se telling van 248 vir vier. Daarna het Kyle Verreynne ‘n onoorwonne 116 behaal wat die hoogste syfer ooit van die toernooi is. Dit was egter nie genoeg vir die Pretoria Capitals nie en hulle kon ná 20 boulbeurte net 214 vir agt bymekaar skraap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-en-21-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-54-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….