Nuus 08:00
BULLETIN 17 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Simelane sê die regering tree op teen onwettige grond- en boubesettings
# Die DA vra vir ‘n parlementêre ondersoek na Eskom se munisipale kragooreenkomste
# En burgemeester Nasiphi Moya sê daar is geen waterkrisis in Tshwane nie
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, sê die toename in onwettige besettings van grond en geboue in die land plaas ‘n aansienlike finansiële en administratiewe las op die regering en die privaat sektor. Die regering het die Wysigingswetsontwerp op Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onwettige Grondbesetting vir openbare kommentaar gepubliseer. Simelane sê die voorgestelde wysiging wil munisipaliteite, staatsinstellings en privaat grondeienaars bemagtig om onwettige besettings en uitsettings meer doeltreffend te hanteer:
# Die DA sê Eskom se stelsel vir die hantering van munisipale skuld misluk, met skuld wat nou sowat 111-miljard-rand beloop en steeds styg ondanks ‘n skuldverligtingsprogram van die Nasionale Tesourie. Die party doen ‘n beroep op ‘n parlementêre ondersoek na die nutsmaatskappy se munisipale verspreidingsooreenkomste met agentskappe, en voer aan die infasering was stadig met die meeste munisipaliteite wat nie aan die betalingsterme voldoen nie. Kevin Mileham van die DA sê strenger toesig is nodig om verdere verswakking in munisipale finansies te voorkom:
# Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, sê die metro het nie ‘n waterkrisis nie, maar het wel probleme met verouderende infrastruktuur, lekkasies en ondoeltreffendheid, maar nie voorsiening nie. Die metro voorsien in die vraag na 800- tot 900-miljoen liter per dag. Uitgawes aan watertenkwaens het van 140-miljoen-rand in 2024 tot 777-miljoen-rand in 2025 toegeneem. Volgens Moya bly Hammanskraal en Bronkhorstspruit die groot probleemgebiede, maar hulle is vasbeslote om watervoorsiening na dekades te herstel. Sy sê die doelwit om ‘n waterveilige Tshwane te bou bly onveranderd.
# Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu sê die Israelse weermag gaan nie uit sy posisies in die suide van Libanon onttrek tydens die skietstilstand van tien dae nie. Dit druis in teen die Iran-ondersteunde militante groep, Hisbolla, se eis dat hulle onttrek. Netanyahu sê die skietstilstand is daarop gemik om geskiedkundige samesprekings met Libanon voort te sit wat vroeër die week in Amerika begin het. Hy sê Israel het twee basiese eise vir hierdie vredesonderhandelings: eerstens, Hisbolla moet ontwapen word; en tweedens, ʼn volhoubare vredesooreenkoms, vrede deur krag.
# Krieket: Die Punjab Kings het die Mumbai Indians met sewe paaltjies afgeransel, hul onoorwonne segetog voortgesit en is nou boaan die Indiese Premierliga se punteleer. Quinton de Kock het ʼn onoorwonne 112 van 60 balle behaal en bygedra tot Mumbai se 195 vir ses. Daarna het Prabhsimran Singh ʼn onoorwonne 80 van 39 balle aangeteken en deel ʼn vennootskap van 139 lopies met kaptein Shreyas Iyer. Dit het Punjab se oorwinning met 21 balle oor verseker. Iyer loof sy boulers wat Mumbai tot minder as 200 beperk het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-718-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-795-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….