Nuus 08:00
BULLETIN 10 April 2026 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile herhaal dat hy nooit vir Vusumuzi “Cat” Matlala ontmoet het nie
# Freedom Under Law sê die Konstitusionele Hof se uitspraak teen Cash Paymaster Services is betekenisvol
# En Melania Trump ontken bande met Jeffrey Epstein en Ghislaine Maxwell
# Adjunkpresident Paul Mashatile het herhaal dat hy nie die vermeende Groot 5-kartelfiguur, Vusumuzi “Cat” Matlala, ken nie. Die geskorste polisiesersant, Fannie Nkosi, het verlede maand aan die Madlanga-kommissie gesê Matlala het ‘n ontmoeting met Mashatile gereël. Mashatile het gister by die Gautengse Beleggingskonferensie gesê hy was nie in die land toe die vergadering met Matlala plaasgevind het nie. Hy het ook gesê hy is bereid om sy volle samewerking aan die kommissie te gee.
# Freedom Under Law sê die Konstitusionele Hof se uitspraak teen Cash Paymaster Services is betekenisvol om aanspreeklikheid te verseker by ʼn privaat organisasie wat ʼn openbare diens verrig. CPS moet die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid 81,3-miljoen-rand betaal. Dit hou verband met die landwye tender wat Sassa aan CPS toegeken net, maar wat die Konstitusionele Hof in 2014 onregmatig bevind het. Die hof het CPS egter toegelaat om met die betalings voort te gaan om onderbrekings te voorkom. Freedom Under Law sê die beslissing sal seker maak maatskappye maak nie wins uit onwettige kontrakte nie.
# Die 2026 Gautengse Beleggingskonferensie het sy teiken verbygesteek en 205,6-miljard-rand se nuwe beloftes ontvang terwyl sy mikpunt 200-miljard-rand was. Die meeste beloftes is vir die infrastruktuur-geleide sektore. Vervoer en logistiek het beloftes van sowat 60,3-miljard-rand ontvang, gevolg deur eiendom en kern-infrastruktuur. Verlede jaar se beleggingsbeloftes het sowat 312,5-miljard-rand beloop. Die LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Landbou en Landelike Ontwikkeling, Vuyiswa Ramokgopa, sê die provinsie het nou meer as 500-miljard-rand in privaatsektorbeloftes bewerkstellig:
# Die Amerikaanse presidentsvrou, Melania Trump, het berigte verwerp dat sy ‘n verhouding met die wyle finansier en seksoortreder Jeffrey Epstein en sy medepligtige, Ghislaine Maxwell, gehad het. Die Epstein-lêers wat vroeër vanjaar deur Amerika se justisiedepartement openbaar gemaak is, bevat ‘n e-pos uit 2002 tussen Melania Trump en Maxwell, wat sy beskryf as slegs korrespondensie in ‘n ligte trant. In ‘n buitengewone opmerking uit die Wit Huis het sy beklemtoon dat sy nie ‘n getuie of ‘n genoemde getuie oor enige van Epstein se misdade was nie:
# Gholf: Die wêreld-nommer-twee, Rory McIlroy, se poging om slegs die vierde man te word wat agtereenvolgende Meesters-toernooie te wen, het op ʼn goeie noot begin. Die 36-jarige speler van Noord-Ierland loop na die eerste ronde in Augusta, Georgia, voor saam met die Amerikaner, Sam Burns, ná ʼn vyf onder baansyfer 67. Die Amerikaners Patrick Reed, Kurt Kitayama en die Australiër Jason Day is twee houe agter hulle. McIlroy sê hy was op die eerste putjie nogal senuweeagtig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-907-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-758-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….