Nuus 08:00
BULLETIN 8 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sibusiso Dyonase glo hy het ‘n werklike kans om die nuwe DA-leier te word
# Die MK-party bevorder ‘n nuwe wetsontwerp vir grondonteiening sonder vergoeding
# En Donald Trump stem in tot ‘n twee weke lange skietstilstand met Iran
# Die DA-koukusleier in die Sedibeng-munisipaliteit, Sibusiso Dyonase, sê hy is vol vertroue dat hy die vermoë het om John Steenhuisen op te volg. Die 33-jarige Dyonase het die federale leierstryd slegs twee dae voor die sperdatum betree. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, is na verwagting die gunsteling om die stryd te wen wanneer die DA se federale verkiesingskongres die naweek in Johannesburg plaasvind. Dyonase sê sy ervaring in ander leierskapposisies kom handig te pas in hierdie leierskapstryd:
# Die MK-party sê hy sal ‘n Wysigingswetsontwerp indien om Artikel 25 van die Grondwet te verander wat grondonteiening sonder vergoeding moontlik maak. Die party glo die wetsontwerp is bedoel om grondhervorming te versnel, ekonomiese ontwikkeling te ondersteun en toegang tot grond uit te brei. Nhlamulo Ndhlela van MK sê die voorstel sal met ander politieke partye bespreek word, as deel van pogings om breër steun te verkry.
# ‘n Brand het gisteraand by die Riverlea Secondary School in Johannesburg uitgebreek, ʼn dag voordat skole vir die tweede kwartaal heropen. Talle geboue by die skool, insluitend ʼn biblioteek, ʼn klaskamer, ʼn paar pakkamers en ʼn laboratorium is totaal verwoes. Dis dieselfde skool waar elf klaskamers op 27 April 2025 in ʼn brand beskadig is. Die beheerliggaam se voorsitter, Keagan Everson, het aan die SABC gesê hy glo die brand is doelbewus gestig:
# President Donald Trump van Amerika sê hy het ingestem om beplande militêre aanvalle teen Iran vir twee weke op te skort. Hy het met massiewe aanvalle teen Iran se energie- en vervoerinfrastruktuur gedreig indien Teheran nie ʼn ooreenkoms aanvaar nie. Pakistan het as bemiddelaar opgetree om die skietstilstand te bewerkstellig. Trump sê dis onderhewig aan die volledige, onmiddellike en veilige oopstelling van die Straat van Hormoes. Hy sê hulle het ʼn tienpunt-voorstel van Iran ontvang en glo dis ʼn werkbare basis waarvolgens hulle kan onderhandel.
# Sokker: Bayern Munich het na tien pogings hul eerste oorwinning oor die 15-malige kampioene, Real Madrid, behaal om met ʼn eerste-rondte-sege van 2-1 te spog in hul Kampioeneliga-kwarteindronde op die Bernabéu. Luis Diaz en Harry Kane se doele het Vincent Kompany se span se oorwinning verseker en ʼn voorsprong gegee in aanloop tot volgende week se tweede rondte. Kylian Mbappé het Madrid se enigste doel aangeteken. Intussen het plaasvervanger Kai Havertz in die 91ste minuut ʼn doel geskop om ʼn 1-0 sege vir Arsenal te beklink in hulle kwarteindronde teen Sporting in Lissabon.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-412-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-802-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….