Nuus 08:00
BULLETIN 7 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die vertroue tussen Suid-Afrikaners en die ANC het afgeneem
# Ses kinders sonder dokumente word by die Beitbrug-grenspos onderskep
# En rugby: Die NWU-Arende sal teen UP-Tuks te staan kom in die Varsitybeker-eindstryd
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die publiek het vertroue in die party verloor. ‘n Onlangse opname deur die marknavorsingsmaatskappy, Ipsos, toon dat die ANC se steun onder alle stemgeregtigde kiesers in die land nou op 33-persent staan. ‘n Opname deur die Maatskaplike Navorsingstigting stel die party se steun nasionaal op 39-persent. Mbalula het gister tydens die Solomon Mahlangu-lesing in Tshwane gesê mense word gekonfronteer met mislukte dienste, werkloosheid, ongelykheid en ‘n groeiende gevoel van ontnugtering:
# Die Grensbestuursowerheid het gister by die Beitbrug-grenspos in Limpopo ‘n taxi voorgekeer met ses kinders sonder ouers of dokumente aan boord. Die taxibestuurder is gearresteer weens sy hulp en bystand met onwettige migrasie. Die owerheid se kommissaris, Michael Masiapato, sê die kinders is aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling oorhandig en sal met hul gesinne in Zimbabwe herenig word:
# Die Suid-Afrikaanse Spesiale Risikoversekeringsvereniging sê hy behoort sy kapitaalreserwe-teiken van 30-miljard-rand teen 2029 te bereik. Dit volg nadat die staatsbeheerde instelling onlangs weer sy Wrap Cover beskikbaar gestel het. Dit bied groot korporatiewe versekering teen toenemende risiko’s wat verband hou met burgerlike onrus, geweld, betogings, openbare wanorde en terrorisme. Die onluste in Julie 2021 het tot skade van meer as 31-miljard-rand gelei. Sasria se uitvoerende hoof, Mpumi Tyikwe, sê die beskikbaarheid van voldoende risiko-oordragvermoë keer dat mense kapitaal onttrek, en verbeter korporatiewe veerkragtigheid en die land se vermoë om toekomstige skokke te absorbeer.
# President Donald Trump van Amerika sê Iran kan in een nag vernietig word as hy nie ʼn ooreenkoms bereik voor die sperdatum wat Trump vir die opening van die Straat van Hormoes gestel het nie. Hy het gister by die Withuis dreigemente herhaal om Iran se brûe en kragaanlegte aan te val en sê Iran se mense sal bereid wees om te ly as dit uiteindelik hul vryheid verseker. Hy sê Iran sal nooit ʼn kernwapen hê nie:
# Rugby: Die Noordwes-universiteit se Arende en die Universiteit van Pretoria se Tukkies meet komende Maandag kragte in die Varsitybeker-eindstryd op die LC de Villiers-stadion in Pretoria. Die Arende het in Potchefstroom 40 punte in die tweede helfte aangeteken om die Universiteit Stellenbosch se Maties met 50-10 af te ransel. In Pretoria het die vleuel, Munashe Dukuswa, drie drieë gedruk en Tuks, wat ʼn sesde titel wil buit, het die Universiteit van Johannesburg met 53-34 verslaan. Walter Sisulu-universiteit en Wits spook Vrydag sake uit in die Varsityskild-eindstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-681-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-641-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 108-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….