Nuus 08:00
BULLETIN 17 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die SAOG-beraad is ‘n geleentheid vir Suid-Afrika
# Vusimuzi ‘Cat’ Matlala verskyn vandag voor die Madlanga-kommissie
# En Donald Trump sê die VSA sal sy militêre oefeninge met Suid-Korea afskaal
# President Cyril Ramaphosa sê die 46ste Gewone Beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap wat vandag in Durban plaasvind, is ‘n geleentheid om politieke verbintenisse te hernu om die streek verder te verenig en te integreer. Hy het gisteraand ‘n verwelkomingsdinee in eThekwini aangebied ter ere van staatshoofde, hoofde van afvaardigings en spesiale gaste wat die beraad bywoon. Ramaphosa sê die beraad is ook ‘n geleentheid om Suider-Afrika se kollektiewe vasberadenheid te versterk om die lewens van burgers te verbeter deur sterk ekonomieë en dinamiese samelewings te bou:
# Die adjunkminister van Water en Sanitasie, David Mahlobo, sê die afgelope 32 jaar onder ANC-bewind het toegang tot water tot 91,3-persent en sanitasie tot 85,6-persent gestyg. Hy het gister by die ANC se inligtingsessie oor die party se plaaslike regeringsmanifes-hersiening gesê hy erken dat water een van die land se grootste diensleweringsprobleme bly. Die regering het oor die volgende drie jaar 156-miljard-rand toegewys vir water- en sanitasie-infrastruktuur. Mahlobo hou vol meer moet gedoen word om toegang vir baie gemeenskappe te verbeter:
# Die beskuldigde tenderpreneur, Vusimuzi “Cat” Matlala, verskyn vandag en môre voor die Madlanga-kommissie. Hy is ‘n sentrale figuur in die ondersoek na strafregtelike en politieke insypeling in die land se strafregstelsel. Hy sou aanvanklik in September getuig, maar dis nou vroeër geskuif. Matlala het in Julie voor die kommissie verskyn, maar volgens ʼn bevinding van regter Mbuyiseli Madlanga is sy getuienis uitgestel. Hy staar vele aanklagte in die gesig, onder meer omkopery en beïnvloeding van politici, en dat hy onregmatig ʼn polisiewelstand-tender van 228-miljoen-rand ontvang het.
# President Donald Trump sê Amerika sal sy militêre oefeninge saam met Suid-Korea aansienlik afskaal omdat hy ʼn “baie goeie verhouding” met Kim Jong-un van Noord-Korea het. Die gesamentlike oefeninge, die Ulchi Freedom Shield, begin vandag en sowat 18-duisend Suid-Koreaanse soldate is saam met Amerikaanse magte daarby betrokke. Trump het op Truth Social gesê hierdie militêre oefeninge is nie net duur nie, maar stuur ook ʼn totaal onvanpaste en vyandige boodskap aan ʼn land wat respekvol en nie bedreigend is nie.
# Gholf: Die viermalige kampioen, Scottie Scheffler, het ʼn oorwinning van agt houe behaal by die FedEx St. Jude-kampioenskap in Memphis, en die derde jongste speler geword wat 21 PGA-toerseges behaal. Die Amerikaner het in die laaste rondte 66 aangeteken om op 17-onder klaar te maak. Kim Si-woo van Suid-Korea is met twee-onder 68, tweede op nege onder. Sam Burns van Amerika en die Sweed, Alex Noren, is derde. Rory McIlroy van Noord-Ierland wat na vier weke terug is by die PGA-toer, is 66ste, 25 houe agter Scheffler.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-287-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-390-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….