Nuus 08:00
BULLETIN 1 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die Parlement is verander in ‘n wapen om president Cyril Ramaphosa te verdedig
# ActionSA se president vra ingrypende optrede om korrupsie te bekamp
# En krieket, Sunrisers Eastern Cape verslaan die Joburg Super Kings en bespreek hulle plek in die uitspeelrondes
# Die EFF sê dis duidelik die ANC-geleide regering maak staat op wraaksugtige maatreëls om opposisiestemme stil te maak en aanspreeklikheid vir hulle eie mislukkings te vermy. Die EFF se pogings om die Wes-Kaapse Hooggeregshof se besluit om te keer dat ses van sy lede, insluitend Julius Malema, hierdie maand uit die Parlement geskors word, het misluk. Dit sluit hulle uit van die staatsrede, die debat daarna en ook die begrotingsrede. Die EFF-woordvoerder, Sinawo Thambo, sê hulle sal voortgaan om president Cyril Ramaphosa aanspreeklik te hou:
# ActionSA se president, Herman Mashaba, het ‘n verklaring uitgereik waarin hy beslissende maatreëls vra om korrupsie in Suid-Afrika hok te slaan. Mashaba het beklemtoon die land se siening oor korrupsie het vererger, soos aangedui deur die onlangse Wêreldkorrupsie-aanwyser wat Transparency International vrygestel het. Suid-Afrika het sedert verlede jaar twee punte verloor en ‘n rekordlae telling van 41 uit 100 op die wêreld-aanwyser aangeteken. Mashaba vra die verwydering van korrupte leiers. Hy kritiseer president Cyril Ramaphosa omdat hy nie oor die politieke wil beskik om korrupsie doeltreffend te bekamp nie.
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê die indiening van die Emfuleni-munisipaliteit se jaarverslag ter voorbereiding van die aansuiweringsbegroting, toon daar is geen oplossing om die munisipaliteit uit die moeilikheid te kry nie. Emfuleni skuld krediteure sowat nege-miljard-rand. Die VF Plus-raadslid Gerda Senekal sê daar is geen vinnige oplossing om die bankrot munisipaliteit uit sy finansiële verknorsing te kry nie. Die enigste oplossing is om die ANC-regering in die provinsie uit te stem:
# Die Internasionale Geregshof het beslis Rusland oortree artikels van twee VN-verdrae: een oor terrorisme en een oor die uitwissing van rassediskriminasie. Oekraïne sê Moskou is ‘n terroristestaat en dat hy soldate befonds het wat in 2014 betrokke was by die afskiet van Vlug MH17, waarin al 298 mense aan boord dood is. Die hof het bevind Rusland het nie mense ondersoek wat volgens berigte pro-Russiese rebellegroepe in die ooste van Oekraïne befonds nie. Die hof het egter geweier om Rusland daaraan skuldig te bevind dat hy die vliegtuig afgeskiet het.
# Krieket: Die verdedigende kampioene, Sunrisers Eastern Cape, het hulle plek in die SA20-uitspeelronde verseker na ʼn bonuspunt-oorwinning van nege paaltjies oor die Joburg Super Kings op die Wanderers. Dan Worrall van Australië het drie paaltjies laat kantel en die tuisspan is op net 78 almal uit. Die Sunrisers het daarna gemaklik lopies aangeteken met die Engelse paar, Dawid Malan en Tom Abell, wat op die tweede paaltjie ʼn onoorwonne 50-lopie-vennootskap behaal het. Worrall sê hulle het ʼn veelsydige span wat hulle in ʼn goeie posisie in die kompetisie plaas:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-996-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-46-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….