Nuus 08:00
BULLETIN 5 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Edward Kieswetter bevestig die Inkomstediens se leierskapsoorgang sal nie bedrywighede ontwrig nie
# Die oorlewende van die geskeide Siamese tweeling word van Limpopo na Pretoria oorgeplaas
# En rugby: Nederlae vir die Bulle en die Stormers in die Kampioenebeker se ronde van 16
# Die uittredende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, sê die organisasie se leierskapsoorgang sal nie sy diensleweringsmandaat beïnvloed nie. Sy ampstermyn eindig die einde van die maand en president Cyril Ramaphosa het Ngobani Makhubu as sy opvolger aangestel. Kieswetter sê hy het volle vertroue in Makhubu en hulle sal verseker dat die oorgangstydperk glad verloop:
# Die ANC se gewese tesourier-generaal, Mathews Phosa, sê die Madlanga-kommissie het kommerwekkende en diepgewortelde korrupsie binne Suid-Afrika se regstelsel blootgelê. Ramaphosa het die kommissie se tussentydse verslag in Desember verlede jaar ontvang, wat prima facie-bewyse van oortredings geïdentifiseer het. In sommige gevalle is sake vir strafregtelike ondersoek verwys. Die verslag is nie openbaar gemaak nie. Phosa het aan eNCA gesê Ramaphosa moet beslissend optree weens die aanbevelings:
# Limpopo se Departement van Gesondheid het bevestig die oorlewende baba van die onlangs-geskeide Siamese tweeling is van die Mankweng-hospitaal na die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria gevlieg vir spesialissorg. Premier Phophi Ramathuba se woordvoerder, Thilivhali Muavha, sê die besluit volg ná raadpleging tussen Ramathuba en die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi. Hy sê dit maak voorsiening vir ‘n nuwe mediese span om voort te gaan met die behandeling:
Nuus uit die buiteland:
# Die Republikeinse senator John Curtis van Utah sê gaan nie maatreëls ondersteun om ekstra befondsing vir Amerika se militêre operasie in Iran goed te keur sonder ‘n oorlogsverklaring nie. President Donald Trump se administrasie gaan na verwagting die Kongres vra vir ‘n aanvullende befondsingswetsontwerp om die oorlog te befonds. Curtis sê hy sal nie voortgesette militêre optrede langer as 60-dae ondersteun sonder Kongres-goedkeuring nie. Hy sê om ‘n president die mag te gee om ‘n oorlog te voer sonder die Kongres se oorlogsverklaring sal die gesag nietig verklaar.
# En rugby: Die Bulle en die Stormers is uitgeskakel in die Kampioenebeker se ronde van 16. Die Bulle het in Skotland 25-21 teen Glasgow Warriors verloor nadat die gasheer vier drieë gedruk het teenoor die besoekers se twee. Die Stormers het vroeër ‘n hartseer-nederlaag van net een punt teen Toulon in Frankryk gely nadat die slot Adré Smit se tweede drie laat in die wedstryd nie toegeken is nie. In ander Kampioenebeker-wedstryde het Toulouse vir Bristol met 59-26 geklop, Sale Sharks vir Harlequins 26-17 en Bath vir Saracens 31-22.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….