Nuus 08:00
BULLETIN 2 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra vir dringende optrede om die elektrisiteitsprysmodel te hervorm
# Minister Gwarube gee die Konsepregulasies vir Leerder-swangerskap uit
# En Artemis II styg suksesvol op met vier NASA-ruimtevaarders aan boord
# Die DA sê hulle pleit vir ‘n nuwe, billike en deursigtige prysbeleid wat bekostigbaarheid, verantwoordbaarheid en die verskeidenheid van die energiemark eerste stel. Vanaf 1 April het elektrisiteitstariewe vir die 2026/2027-boekjaar met ongeveer 8,7-persent gestyg vir kliënte wat regstreeks deur Eskom voorsien word, terwyl nog ‘n verhoging van 8,83-persent vir hierdie tyd volgende jaar geskeduleer is. Kevin Mileham van die DA sê die tariefverhogings is onbekostigbaar en onregverdigbaar:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het konsep-wysigingsregulasies van die Wet op Basiese Onderwyswette oor leerderswangerskap vir openbare kommentaar gepubliseer. Die doel is om die reg op onderwys te beskerm en te verseker swanger leerders op skool bly en na hulle geboorte gegee het sonder diskriminasie kan terugkeer. Skole moet ondersteunende omgewings bied en gesondheids- en maatskaplike dienste aan leerders verskaf. Die konsep vereis ook dat swangerskappe van leerders onder 16 aan die owerhede gerapporteer word. Openbare kommentaar kan binne 30 dae vanaf 25 Maart 2026 by die Departement van Basiese Onderwys ingedien word.
# Die EFF in Gauteng sê die aanstelling van sy provinsiale voorsitter, Nkululeko Dunga, as nuwe LUR vir Finansies is ‘n progressiewe stap om bestuur te versterk en bestendigheid te verseker. Dunga vervang Lebogang Maile van die ANC, wat toegewys is om die Onderwysportefeulje te lei. Die EFF se woordvoerder, Sinawo Tambo, het aan Newzroom Afrika gesê hulle glo in Dunga se leierskapsvermoë, dissipline en vermoë om binne ‘n gesamentlike bestuur te werk, terwyl die politieke program van die party beskerm en bevorder word:
# Krieket: Die Delhi Capitals het hulle Indiese Premierliga-veldtog afgeskop met ‘n oorwinning van ses paaltjies oor die Lucknow Super Giants. Lungi Ngidi en Thangarasu Natarajan het elkeen drie paaltjies laat kantel en Lucknow was na 18 boulbeurte en vier balle op 141 almal uit. Daarna het die speler van die wedstryd, Sameer Rizvi, ʼn onoorwonne 70 van 47 balle gemoker in ʼn vennootskap van 119 lopies met Tristan Stubbs. Dit het die Capitals tot oorwinning gelei met 17 balle oor. Vandag spook die Kolkata Knight Riders en Sunrisers Hyderabad sake uit.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-95-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-787-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-676-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-76-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie se Artemis II is gisteraand suksesvol vanaf die Kennedy-ruimtesentrum in Florida gelanseer op pad na die maan vir die eerste maanreis in meer as 50 jaar. Vier ruimtevaarders, Reid Wiseman, Victor Glover, Christina Koch en Jeremy Hansen, is aan boord van die Orion-ruimtetuig op ‘n tien dae lange sending om rondom die maan te wentel. NASA-administrateur Jared Isaacman sê die sending kan verder van die Aarde af reis as wat enige mens ooit kon, en sodoende die Apollo 13-afstandrekord verbeter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….