Nuus 08:00
BULLETIN 1 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Suid-Afrika se groei en herstel hang af van sterk vennootskappe
# Solidariteit waarsku dat brandstofprysstygings inflasie van alle goedere sal verhoog
# En die parlementêre ad hoc-komitee kry ‘n vierde verlenging
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die sesde Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie het weereens bevestig dat Suid-Afrika se groei en herstel afhang van sterk vennootskappe tussen die regering, sakeondernemings, arbeid en die samelewing. Die konferensie wat gister in Sandton, Johannesburg, gehou is, het ‘n groep van 16 beleggings onthul wat elk tien-miljard-rand of meer werd is en verskeie sektore soos energie, toerisme en vervaardiging insluit. Mashatile sê Suid-Afrika ervaar ʼn oplewing wat gekenmerk word deur die integrasie van hervormings, die versterking van instellings en herstel van bestendigheid in kritiese ekonomiese sektore.
# Die vakbond Solidariteit sê Suid-Afrikaners staan voor die hoogste brandstofprysstyging in die geskiedenis, met diesel wat met sewe-rand-37 sent per liter styg. Die vakbond sê terwyl die tydelike drie rand-verlaging in die brandstofheffing verligting bied, bly huishoudings en besighede onder ernstige finansiële druk. Theuns du Buisson van Solidariteit sê vragkoste tussen groot stede het ook gestyg, en taxi- en busgeld sal na verwagting styg:
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van korrupsie en politieke inmengery in die strafregstelsel ondersoek, het die vierde keer uitstel gekry om sy werk af te handel. Die Nasionale Vergadering se speaker, Thoko Didiza, het 30 April as sperdatum vasgestel ten spyte van versoeke dat dit tot Junie verleng word. Die parlementêre inhoud-raadgewer, Nicolette van Zyl-Gous, het ʼn voorgestelde werkplan uiteengesit wat komiteelede in staat stel om die verslag tussen 13 April en 11 Mei te voltooi. Didiza was egter huiwerig om dit so lank uit te stel.
# President Donald Trump sê Amerika kan binne twee tot drie weke sy oorlog teen Iran beëindig. Hy het vroeër die week gedreig om Iran se energie-aanlegte te vernietig indien ʼn vredesooreenkoms nie bereik word nie, maar hou vol onderhandelinge vorder. Iran ontken dit egter. Trump het by die Withuis sy bewering herhaal dat ʼn regeringsverandering in Iran bereik is. Hy sê die oorlog kan vroeër verby wees indien ʼn ooreenkoms gesluit word:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê daar is talle areas waaraan hulle voor die Wêreldbeker moet werk. Hulle moet onder meer geleenthede beter benut. Suid-Afrika het gisteraand in Kaapstad in ʼn vriendskaplike wedstryd teen Panama geleenthede verspeel. Die twee spanne se wedstryd verlede Vrydag in Durban het gelykop geëindig met een elk. Broos sê hulle kon tien keer in die twee wedstryde punte aanteken, maar het met slegs twee doele geslaag. Hy sê dis nie goed genoeg nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-915-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-687-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 104-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….