Nuus 08:00
BULLETIN 29 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa waarsku die Midde-Oosterse konflik sal ’n groot uitwerking hê op die wêreldekonomie en Suid-Afrika
# Eskom sê Suid-Afrika se kragnetwerk toon steeds ‘n volgehoue periode van bestendigheid
# En rugby, Suid-Afrikaanse spanne in VRK-kragmetings behaal oorwinnings in naweek se tuiswedstryde
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa waarsku die toenemende konflik in die Midde-Ooste laat globale oliepryse die hoogte inskiet en sal ‘n negatiewe uitwerking hê op die Suid-Afrikaanse ekonomie met skerp brandstofprysverhogings wat volgende maand verwag word. Ramaphosa het by die ANC in Mpumalanga se provinsiale verkiesingskonferensie in Mbombela gepraat. Hy sê die konflik kan Suid-Afrika se ekonomiese herstel kniehalter en sal lei tot verhoogde vervoer- en voedselpryse, wat verdere druk op huishoudings plaas:
Ramaphosa het by dieselfde geleentheid gesê korrupsie is steeds ʼn groot probleem in Suid-Afrika, maar die regering maak vordering in die stryd daarteen. Hy sê die onthullings voor die Madlanga-ondersoekkommissie en die parlementêre ad hoc-komitee bewys die gety draai teen die misdaadnetwerke. Hy sê daar is ʼn dringende behoefte om korrupsie en “verrotting” in die Suid-Afrikaanse regstelsel aan te spreek:
# Eskom sê Suid-Afrika se kragnetwerk toon steeds ‘n volgehoue tydperk van bestendigheid, met sy opwekkingsvloot wat deurlopende verbeterings en sterk operasionele prestasie lewer. Die woordvoerder van die kragverskaffer, Daphne Mokwena, sê hierdie vordering, gedryf deur die opwekkingsherstelplan, het gelei tot ‘n verbetering van 10,80-persent in die energiebeskikbaarheidsfaktor:
# Kenia se nasionale polisiediens sê 108 mense in Kenia is dood ná weke se swaar reën en oorstromings. Kitsvloede sedert 6 Maart het wydverspreide verwoesting in die Oos-Afrika-nasie veroorsaak. Tientalle voertuie is in die hoofstad Nairobi meegesleur, reise is ontwrig en kraginfrastruktuur is beskadig. Alhoewel die reënval in sommige gebiede afgeneem het, waarsku die polisie dat oorstromings steeds voorkom weens dreineringstelsels wat oorloop en grond wat versadig is.
# Rugby: Die Stormers het gisteraand ʼn oortuigende 33-14 bonuspuntoorwinning oor Edinburgh behaal in hul Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting in Kaapstad. Die Leeus is onder die top-vier na ʼn 42-26 oorwinning teen die Dragons in Johannesburg. In Pretoria het die Bulle met 34-31 naelskraaps met Munster afgereken. Die Stormers is nou tweede op die punteleer, die Leeus is vierde en die Bulle het tot die sewende plek gevorder. Die Haaie staan steeds ʼn kans om die top-agt te haal na hul 21-15 sege oor Cardiff in Durban.
# En ten slotte, die adjunkminister van vervoer, Mkhuleko Hlengwa, werk saam met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke om padveiligheid voor die hoërisiko-Paasfees-reisperiode te versterk. ‘n Woordvoerder Collen Msibi sê Hlengwa en die raad het ooreengekom oor ‘n aantal prioriteitsaksies om die Paasfees-padveiligheidsveldtog te ondersteun, insluitend landwye padveiligheidsboodskappe deur kerke, die bevordering van ‘n veilige Paasfees-reisbelofte, gemeenskapsaktivering en verhoogde sigbaarheid. Hy sê geloofsleiers sal wetstoepassingsoperasies in die openbaar ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….