Nuus 08:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 17 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society sê president Cyril Ramaphosa kyk oorlogsmisdade op sy eie werf mis
# Sonke Gender Justice sê meer moeite is nodig on geslagsgeweld in hoër onderwys te hanteer
# En, die Wêreldvoedselprogram waarsku Gaza staar hongersnood in die gesig
# Action Society sê president Cyril Ramaphosa moet nader aan die huis kyk as hy iemand van oorlogsmisdade wil aankla. Die president het vroeër die week aangekondig Suid-Afrika het by die Internasionale Strafhof aanbeveel dat Israel se vermeende oorlogsmisdade in Gaza ondersoek word. ʼn Woordvoerder van Action Society, Juanita du Preez, sê die persoon teen wie die aanklagte ingestel moet word, is die minister van Polisie, Bheki Cele, omdat hy nie daarin slaag om misdaad in die land te bekamp nie:
Speel klankgreep: AFR JuanitaonWarCrimes
# Sonke Gender Justice sê dis duidelik die sektor vir hoër onderwys moet meer moeite doen om geslagsgeweld en vrouemoord doeltreffend te hanteer. Dit volg nadat ʼn student van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie se kêrel haar by ʼn privaat koshuis in Belhar met ʼn mes gesteek het. Die organisasie se woordvoerder, Bafana Khumalo, sê hulle vra meer spesifieke optrede om behoorlike stelsels in te stel en seker te maak alle studente is veilig op kampusse en in koshuise waar die instelling se studente woon.
# Die Mopani-distriksmunisipaliteit in Limpopo het met regsoptrede begin om geld terug te kry wat tydens opknapwerk by die Giyani-watersuiweringsaanleg gesteel is. ʼn Verslag deur die Spesiale Ondersoekeenheid het bevind staatsamptenare het onregmatig tenders toegeken sonder om die regte prosesse te volg. Die eenheid onthul hoe die oorspronklike begroting vir die projek van 90-miljoen-rand tot 2,2-miljard-rand en later tot 4,4-miljard-rand opgeskiet het. Mopani se burgemeester, Pule Shayi, sê hulle saak om die geld terug te kry, is geregverdig.
# Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram sê die Gazastrook staar ʼn reuse-voedseltekort en wydverspreide hongersnood in die gesig omdat byna die hele bevolking dringend voedselhulp nodig het. Brandstoftekorte het broodproduksie by al 130 bakkerye in Gaza feitlik tot stilstand gebring. Die voedselprogram se streeksdirekteur in die Midde-Ooste, Corinne Fleischer, sê net 447 van die een-duisend-129 vragmotors wat Gaza sedert die opening van die Rafah-grenskruising binnegegaan het, het voedselvoorrade vervoer:
Speel klankgreep: ENG FleischerOnLackOfFood
# Tennis: Die Serwiër Novak Djokovic en Italianer Jannik Sinner is deur na die halfeindronde van die ATP-jaareindtoernooi in Turyn. Die wêreld-nommer-een, Djokovic, het die Pool Hubert Hurkacz met 7-6, 4-6 en 6-1 verslaan en het Sinner se oorwinning nodig gehad om na die laaste vier deur te dring. Sinner het Holger Rune van Denemarke met 6-2, 5-7 en 6-4 geklop om met drie seges in drie wedstryde boaan die Groen-groep te eindig. Die Rus, Daniil Medvedev, het intussen reeds vir die halfeindronde gekwalifiseer terwyl Carlos Alcaraz van Spanje en die Duitser Alexander Zverev albei nog uit die Rooi-groep kan kwalifiseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-443-dollar-3-sent. Die prys van goud is een-duisend-986-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….