Nuus 08:00
BULLETIN 27 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Suid-Afrika word gelei deur sy nasionale belange
# Australië se eerste minister maak Trump se bewerings oor gebrek aan steun af
# En Olimpiese Spele: Die IOK beperk vroue-byeenkomste tot biologiese vroue
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika se benadering tot internasionale verhoudings word deur sy nasionale belang bepaal, en dit is om sy mense se ontwikkeling deur ekonomiese groei te bevorder. Hy het gister sy ampsgenoot van China, Han Zheng, in Kaapstad ontvang. Mashatile sê Suid-Afrika bly daartoe verbind om seker te maak sy vennootskap met China lewer praktiese uitkomste wat die lewens van sy mense verbeter en bydra tot volhoubare ontwikkeling in albei lande:
# Die Raadgewende Ingenieurs van Suid-Afrika moedig die regering aan om professionele ingenieurs by besluitneming te betrek om infrastruktuurontwikkeling te verbeter. Die liggaam sê ‘n tekort aan ingenieurs en projekte wat doodloop plaas druk op die sektor. Hy beklemtoon groter samewerking met beleidmakers om volhoubaarheid te verseker. Bedryfsleiers het ook kommer uitgespreek oor werklose gegradueerdes en ‘n gebrek aan tegniese kundigheid in die regering, en waarsku sonder hervorming kan infrastruktuurlewering en ekonomiese groei in die gedrang kom.
# Die Stad Tshwane se raad het ‘n verslag goedgekeur dat tugstappe teen die hoof finansiële beampte, Gareth Mnisi, ingestel word wat stappe insluit om hom voorlopig te skors. Dit volg nadat hy by die Madlanga-kommissie betrek is vir die beweerde manipulering en gekonkel met tenders. Mnisi en ʼn lid van die Gautengse eenheid vir georganiseerde misdaad, Fannie Nkosi, het volgens berigte saamgesweer om seker te maak munisipale tenders word aan voorkeur-bieërs toegeken. Mnisi mag binne sewe dae geskrewe voorleggings indien oor waarom hy nie geskors moet word nie.
# Australië se eerste minister, Anthony Albanese, het herhaal dat die Verenigde State nie enige spesifieke versoeke gerig het vir militêre hulp in die Midde-Oosterse konflik nie. Trump het gister tydens ʼn kabinetsvergadering Australië uitgesonder omdat hy nie help om die Straat van Hormoes oop te hou nie. Sowat 20-persent van die wêreld se olie word deur hierdie seestraat vervoer. Albanese sê sy land het aan alle versoeke voldoen, en bygevoeg hy wil hê die vyandighede moet afgeskaal word:
# Olimpiese Spele: Die Internasionale Olimpiese Komitee het tot ʼn nuwe beleid ingestem wat beteken slegs biologiese vroue mag van 2028 af aan Olimpiese vroue-items deelneem. Dis in ooreenstemming met president Donald Trump van Amerika se uitvoerende bevel oor vrouesport in aanloop tot die 2028 Olimpiese Spele in Los Angeles. Die IOK-president, Kirsty Coventry, sê alle atlete wat in die vroue-kategorieë by toekomstige Olimpiese Spele wil deelneem, sal ʼn eenmalige sifting vir die Y-geen moet ondergaan om hul geslag te bepaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-770-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-428-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….