Nuus 08:00
BULLETIN 23 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis aanspreeklikheid vir 637-miljoen-rand in SETA-fondse
# Die Cradock-vier se geregtelike ondersoek sal na verwagting die week hervat word
# En Iran dreig om die Straat van Hormoes heeltemal te sluit
# Die DA sê hy is woedend oor berigte dat daar van meer as 630-miljoen-rand aan willekeurige toelaes by die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid nie rekenskap gegee kan word nie. Volgens die Ouditeur-generaal se bevindings kan die uitgawes weens vermiste rekords nie verklaar word nie. Karabo Khakhau van die DA sê dis ‘n administratiewe mislukking en regstreekse verraad teenoor jongmense wat op SETA’s staatmaak om toegang tot opleiding en indiensneming te kry:
# Eskom het bevestig dat Suid-Afrika meer as 300 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag beleef het. Die verskaffer gaan voort om sy netwerk se bestendigheid deur sy Opwekkingsherstelplan te versterk, wat onbeplande onderbrekings tot 14,85-persent verminder het. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hulle sal die netwerk ʼn hupstoot gee deur twee-duisend-985 megawatt opwekkingsvermoë voor spitstyd vanaand weer in diens te stel:
# Die geregtelike ondersoek na die moorde op die Cradock-vier – Fort Calata, Matthew Goniwe, Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkonto, hervat vandeesweek sy derde sitting in die Hooggeregshof in Gqeberha. Die ondersoek is ingestel om te bepaal of die veiligheidstak, die polisie, of enige ander persoon uit die apartheidsjare aanspreeklik gehou kan word vir die dood van sekere teen-apartheidsaktiviste. Die ondersoek sal getuienis van die gewese Vlakplaas-bevelvoerder Eugene de Kock, die oud-minister Barend du Plessis, ‘n lid van die Staatsveiligheidsraad, Adamus Paulus Stemmet, en twee voormalige ondersoekbeamptes aanhoor.
# Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps waarsku hy gaan die Straat van Hormoes heeltemal sluit indien president Donald Trump van Amerika sy dreigement uitvoer om sy kernaanlegte te verwoes. Trump het Teheran die naweek 48 uur gegee om die seestraat, waarlangs sowat 20-persent van die wêreld se olie- en gasvoorraad gewoonlik vervoer word, te heropen. Die wagkorps sê as Amerika die land se energiefasiliteite teiken, sal die kragaanlegte van lande in die streek wat Amerikaanse basisse huisves, wettige teikens wees.
# Rugby: Die Stormers het gister in Kaapstad ʼn swaarverdiende 29-21-sege teen die Dragons in die Verenigde Rugbykampioenskap behaal. Die gashere het vier drieë gedruk vir ʼn bonuspuntoorwinning om weer met tweede plek op die VRK-ranglys te spog. Al vier Suid-Afrikaanse spanne het die naweek in die kompetisie se 13de ronde bonuspuntoorwinnings op tuisgrond behaal. Drie van die vier, die Stormers, Leeus en Bulle, bly onder die top-agt terwyl die Haaie steeds hoop het om die uitspeelronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-405-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-356-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 108-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….