Nuus 08:00
BULLETIN 21 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê daar is geen rede vir die paniekaankope van brandstof nie
# Donald Trump sê die VSA oorweeg dit om die oorlog in Iran te beëindig
# En rugby: Die Springbok-vroue sê hulle is gereed vir die Suid-Amerikaanse Sewes-uitdaging
# Die Departement van Minerale en Petroleumbronne sê daar is geen rede vir paniekaankope van brandstof in Suid-Afrika nie, aangesien die land se brandstofvoorraad bestendig bly. Die woordvoerder, Lerato Ntsoko, het gereageer op sekere organisasies en individue wat die publiek aanmoedig om na vulstasies te jaag weens ‘n vermeende brandstoftekort en verwagte brandstofprysstygings. Sy sê oproepe soos hierdie is onverantwoordelik:
Die vakbondfederasie Cosatu sê intussen die regering moet dringend optree om burgers te beskerm teen geweldige brandstofprysstygings vanaf volgende maand. Petrol sal na verwagting met vyf-rand-41-sent per liter styg en diesel met agt-rand-84-sent per liter. Matthew Parks van Cosatu waarsku hierdie stygings, wat deur die Midde-Oosterse konflik veroorsaak word, sal werkers benadeel, vervoerkoste verdubbel en die verlies van werksgeleenthede veroorsaak. Parks doen ‘n beroep op brandstofbelastingverligting, ondersteuning vir elektrisiteit, openbare vervoer, maatskaplike toelaes en die onderbreking van afleggings:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie in Tshwane sê die ANC sluit gemeenskapstemme uit en skuif burgerlike organisasies opsy. In reaksie hierop het die SANCO sy verkiesingsmobilisering voor die plaaslike regeringsverkiesings opgeskort. Die besluit kan groot gevolge hê vir die ANC se steun op grondvlak en sy verkiesingsvooruitsigte in die stad. Fire Mashao van SANCO eis billike verteenwoordiging in plaaslike regering:
# President Donald Trump sê Amerika oorweeg dit om die oorlog in Iran te beëindig, maar nasies wat die Straat van Hormoes gebruik, moet die skeepvaartroete bewaak. Brittanje het vroeër die gebruik van sy basisse goedgekeur vir die VSA vir aanvalle op Iranse gebiede wat die deurvaart van skepe teiken. Iran se minister van Buitelandse Sake het eerste minister Keir Starmer beskuldig dat hy Britse lewens in gevaar stel en gewaarsku dat Iran sy reg op selfverdediging sal uitoefen. Vroeër het Trump NAVO-bondgenote lafaards genoem omdat hulle huiwerig is om die VSA te help om Hormoes oop te maak.
# Rugby: Kaptein Nadine Roos sê die Springbok-vrouespan is gereed vir hul vyf wedstryde in Uruguay hierdie naweek en is vasbeslote om eerder gouer vir die Sewes-wêreldkampioenskap te kwalifiseer, as later. Hulle sal vandag teen Spanje, China en Brasilië te staan kom, met wedstryde teen Kenia en Argentinië môre. Suid-Afrika was tweede in die openingstoernooi in Kenia verlede maand en is in ‘n sterk posisie om een van die vier spanne te wees wat vir die Wêreldkampioenskappe kwalifiseer. Roos sê die span se doelwit is om as wenners in Montevideo weg te stap.
# En ten slotte: Die regering van die Wes-Kaap sê die beskerming van die omgewing is die sleutel tot die handhawing van menseregte. Ter viering van Menseregtedag sê die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, skoon lug, veilige water en gesonde ekosisteme is noodsaaklik vir waardigheid, gelykheid en volhoubare ontwikkeling. Bredell sê die provinsie fokus op omgewingsbeskerming, afvalbestuur en klimaatsveerkragtigheid, en dring aan dat gemeenskappe, besighede en die regering saamwerk om die omgewing vir toekomstige geslagte te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….