Nuus 08:00
BULLETIN 20 Maart 8 vm.
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê dit is nie moontlik om breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging te laat vaar nie
# Glencore se ferrochroom-eenheid kan wegstap van gesprekke met die regering
# En atletiek: Miné de Klerk en Karabo Letebele sal die Binnenshuise Kampioenskappe in Pole misloop
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering sal nié die beleid van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging laat vaar nie. Hy sê dit bly noodsaaklik vir Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling. Die beleid is onder meer deur die VSA gekritiseer, wat eis dat Suid-Afrika daarvan afsien. Mashatile het gister in reaksie op vrae in die Nasionale Vergadering die voorgestelde tweefase-hersiening van die swartbemagtigingsraamwerk uiteengesit. Dit is om die model van bemagtiging te verfyn vir meer doeltreffende en wydverspreide transformasie:
# Glencore se Suid-Afrikaanse ferrochroom-eenheid dreig om oor ‘n afslag-elektrisiteitpakket aan onderhandelinge met die regering te onttrek. Eskom het verlede maand die land se twee grootste ferrochroom-firmas, insluitend die Glencore-eenheid, elektrisiteit teen ʼn groot afslag aangebied om hul sukkelende bedrywighede te help. Glencore het die aflegging van sowat een-duisend-500 werkers tot 31 Maart uitgestel terwyl onderhandelinge voortgaan. Glencore Ferroalloys se uitvoerende hoof, Japie Fullard, sê sommige van die voorwaardes in die ooreenkoms is vir die firma onaanvaarbaar.
# ActionSA het Tshwane-burgemeester, Nasiphi Moya, se besluit om die burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Kholofelo Morodi, op spesiale verlof te plaas, verwelkom. Getuienis voor die Madlanga-kommissie het onthul Morodi het bod-besonderhede vir grondverhuringstenders met Fannie Nkosi, ʼn amptenaar van die Gautengse Eenheid vir Georganiseerde Misdaad gedeel. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê die party sal altyd onmiddellik optree om die volle waarheid vas te stel en mense waar nodig aanspreeklik te hou:
# Israeli se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê sy land het alleen opgetree toe hy Iran se belangrike energie-terrein, die South Pars-veld, vroeër die week aangeval het. President Donald Trump van Amerika het hom gedistansieer van Israel se aanval op die wêreld se grootste gasveld en sê Washington het nie daarvan geweet nie. Israel het vroeër beweer die aanval was in samewerking met Amerika. Netanyahu het ook bewerings verwerp dat Israel die Verenigde State by die oorlog ingesleep het en sê dis fopnuus:
# Atletiek: Die Suid-Afrikaanse span wat hierdie naweek aan Wêreld-atletiek se Binnenshuise Kampioenskap in Pole deelneem, sal sonder Miné de Klerk en Karabo Letebele moet klaarkom. De Klerk, wat die vroue se nasionale rekordhouer in gewigstoot is, moes weens ʼn vertraagde vlug onttrek. Letebele, die 19-jarige naelloper wat in Amerika gebaseer is, se visumaansoek is geweier. Atletiek Suid-Afrika se waarnemende president, John Mathane, sê dis jammer die twee kan nie deelneem nie, maar hulle glo in die atlete wat wel in Pole is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-469-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-731-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….