Nuus 08:00
BULLETIN 19 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie wil die finansiële prestasie en dienslewering in metropolitaanse handelsdienste verbeter
# Fikile Mbalula sê die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, gaan nêrens heen nie
# En rugby: Die Leeus is gefokus om die uitspeelronde van die Verenigde Rugbykampioenskap te haal
# Die Nasionale Tesourie se direkteur-generaal, Duncan Pieterse, sê swak handelsdiensprestasie in metro’s kniehalter ekonomiese groei en plaas ‘n hoë koste op die samelewing. Hy het gister die Metro-handelsdienshervormings bekendgestel wat ʼn nuwe prestasie-verwante aansporing onder die finansierings-toelaag vir stedelike ontwikkeling is. Die regering bied ʼn aansporingstoelaag van 54-miljard-rand oor ses jaar aan. Pieterse sê die instelling van die hervorming wil die lewering van basiese dienste in metropolitaanse munisipaliteite bestendig en versterk:
In reaksie hierop, het die DA gesê hy verwelkom die Nasionale Tesourie se bekendstelling van die Metro-handelsdienshervormings en sê die ingryping is ʼn manier om goeie bestuur in metro’s af te dwing. Die program is ʼn prestasie-gebaseerde toelaag wat die agt metropolitaanse munisipaliteite sal aanspoor om die jare lange afname in voorsiening van munisipale handelsdienste om te keer. Stephen Moore van die DA sê dis ʼn verdoemende aanklag dat een regeringsafdeling reëls moet instel om ʼn ander afdeling te dwing om sy werk te doen:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, sal nie vervang word nie. Dit volg op gerugte dat die party se Johannesburgse streekuitvoerende komitee besluit het om Morero te herroep weens sy swak optrede by verlede jaar se streekverkiesingskonverensie en kommer oor bestuur. Mbalula sê die nasionale werkskomitee het die besluit om Morero te verwyder nietig verklaar en het beklemtoon die streekleierskap het buite sy magte opgetree. Hy het bygevoeg slegs die top sewe in die ANC mag burgemeesters in metropolitaanse munisipaliteite aanstel of verwyder.
# Amerika se direkteur van Nasionale Intelligensie, Tulsi Gabbard, sê Iran se regime lyk ongeskonde, maar is grootliks verswak weens aanvalle op sy leierskap en militêre vermoëns. Sy en ander topamptenare het gister voor die Senaat se Intelligensiekomitee verskyn om die intelligensie-gemeenskap se jongste assessering oor Iran te deel. Gabbard sê Iran se konvensionele militêre vermoë is grootliks vernietig wat hom met slegs beperkte moontlikhede laat:
# Rugby: Die Leeus se afrigter, Ivan van Rooyen, sê hulle fokus voluit om die uitspeelrondes van die Verenigde Rugbykampioenskap te bereik nadat die span die eerste keer die Suid-Afrikaanse Skild verower het. Hy sê ‘n bonuspunt-oorwinning oor Edinburgh Saterdag in Johannesburg, sal baie help. Die Leeus is tans sewende op die punteleer met ses rondes oor en die top-agt wat sal deurdring. Van Rooyen sê al is hulle opgewonde oor die SA Skild-prestasie, is die werk nog glad nie klaar nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-551-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-859-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….