Nuus 08:00
BULLETIN 15 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is ‘diep beskaamd’ oor aanvalle op buitelandse burgers
# Adjunkminister Nel sê geslagsgeweld kan nie net deur die Departement bekamp word nie
# En, Iran is onversetlik oor die seestraat van Hormoes en Trump sê Amerikaners moet die hoë brandstofpryse aanvaar
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is “diep beskaamd” oor aanvalle op buitelandse burgers. Sy opmerkings kom te midde van kommer oor aanvalle wat op migrante en ander buitelanders gemik is. Ramaphosa het voor ‘n vergadering van die leiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Durban gesê geweld en xenofobie het geen plek in Suid-Afrika nie, en die regering is daartoe verbind om almal wat binne die landsgrense woon, te beskerm:
# Die Nasionale Onderwys-, Gesondheids- en Geallieerde Werkersunie sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente strompel steeds van een krisis na die volgende en dit benadeel die instelling en die breër sektor vir naskoolse onderwys en opleiding. NEHAWU se woordvoerder, Lwazi Nkolonzi, het reageer op ‘n uitspraak deur die Pretoriase Hooggeregshof oor ‘n aansoek deur voormalige NSFAS-raadslede. Hul betwis die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela se besluit om die raad te ontbind en met ‘n administrateur te vervang:
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, sê geslagsgeweld kan nie net deur die Departement van Justisie beëindig word nie – dit is alle Suid-Afrikaners se verantwoordelikheid om te help. Nel het gepraat op die afsluitingsgeleentheid van die 2026 Toegang tot Geregtigheidsweek in Thulamahashe in Mpumalanga. Hy sê geweld teen vroue is nie iets wat bloot verduur moet word nie en is ‘n skending van hul regte en menswaardigheid. Nel het bygevoeg tradisionele leiers speel ‘n belangrike rol om geskille op ‘n vreedsame wyse op te los, maatskaplike samehorigheid te bevorder en respek vir die wet te kweek.
# Die Stad Kaapstad sê sy mariene-eenheid het die afgelope jaar groot suksesse behaal, insluitend ‘n byna 500-persent toename in die herwinning van gestroopte mariene hulpbronne. Herwonne goedere het gestyg van ongeveer twee-duisend-500 tot bykans 15-duisend items. Wetstoepassers het ook 953 onwettige sjebiens gesluit. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê hierdie resultate toon ‘n sterker fokus op verordeningstoepassing en misdaadvoorkoming:
# Iran weier om sy standpunt oor die Seestraat van Hormoes te verander en spanning met Amerika bly hoog. Die adjunkminister van Buitelandse Sake in Iran het gesê die strategiese waterweg sal slegs op Teheran se voorwaardes heropen en het Washington aangeraai om wat hy ‘n nederlaag noem te aanvaar. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het mense intussen gewaarsku om hoër brandstofpryse te verwag terwyl die konflik voortduur. Trump sê dis die moeite werd om meer te betaal as dit Iran keer om kernwapens te ontwikkel. Die konflik het verkeer deur Hormoes feitlik tot stilstand gebring.
# En sokker: Druk neem verder toe op FIFA-president Gianni Infantino nadat Nieu-Seeland die jongste land geword het wat steun vir sy herverkiesing volgende jaar onttrek het. Verskeie lande het reeds besluit om die Italianer nie vir ‘n vierde termyn te steun nie, terwyl die beheerliggame van Europa, Asië en die Amerikas ‘n hersiening van sy leierskap vra. Dit volg na sy mislukte plan om ‘n belang in FIFA se kommersiële bedrywighede aan ‘n privaat beleggingsmaatskappy te verkoop. Nieu-Seeland het gevra vir ‘n onafhanklike hersiening van die voorstel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….