Nuus 08:00
BULLETIN 18 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa reageer op vrae wat deur die Parlement se ad hoc-komitee ingedien is
# Action Society waarsku teen ‘n toenemende krisis van onopgeloste sake in Suid-Afrika
# En Zelensky sê Iran en Rusland is ‘broers in haat’
# President Cyril Ramaphosa het amptelik skriftelike antwoorde verskaf op vrae wat die Parlement se ad hoc-komitee ingedien het. Die komitee ondersoek bewerings van misdadige infiltrasie, korrupsie en politieke inmenging in die strafregstelsel. Die president het nagenoeg 120 vrae ontvang oor onder meer sy kennis van, en betrokkenheid by, die omstrede ontbinding van die taakspan oor politieke moorde. Die Presidensie sê Ramaphosa se voorlegging toon sy steun vir die parlementêre proses, en om te verseker die komitee ontvang al die nodige inligting om sy mandaat doeltrefend uit te voer.
# Action Society sê Suid-Afrika het ‘n groeiende probleem met ou sake soos ernstige moord- en kindermishandelingsake wat nie vorder nie. Die organisasie beweer vertragings, forensiese agterstande en swak kommunikasie, laat gesinne vir maande of selfs jare sonder antwoorde. Juanita du Preez van Action Society doen ‘n beroep op die polisie om op te tree, en sê die saak sal na nasionale toesigliggame geëskaleer word indien daar nie vordering gemaak word nie:
# Die EFF in Gauteng beskuldig die Emfuleni-raad se speaker, Sibongile Soxuza, en die ANC dat hulle probeer om die uitslag van die stemmery oor die aanpassingsbegroting te manipuleer. Lede moes gister hand opsteek om te stem in plaas van ‘n teenwoordigheid-telling, wat ʼn oortreding van die Wet op Munisipale Strukture is. Die party sê Soxuza het die begroting verkeerdelik as aanvaar verklaar omdat die ANC en sy koalisievennote nie die vereiste getalle gehad het om dit wettiglik te aanvaar nie. Die EFF sê hy gaan die onwettige stemproses uitdaag.
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky beskryf die regimes in Rusland en Iran as “broers in haat”, en sê hierdie regimes moet nooit toegelaat word om in enige iets te wen nie. Hy het gister die Verenigde Koninkryk se parlement toegespreek as deel van sy toer na Europese hoofstede om ondersteuning te kry vir sy land se oorlog teen Rusland. Zelensky sê sy land se bittere ervaring het gelei tot kundigheid in hommeltuig-oorlogvoering wat hy nou aanbied om lande in die Midde-Ooste te help:
# Sokker: Die Konfederasie van Afrika-sokker se appèlraad het Marokko as 2026 Afrikabeker-kampioen verklaar nadat Senegal se 1-0-sege in die eindstryd omgekeer is. Senegalese spelers het van die veld geloop nadat die gashere, Marokko, in beseringstyd ʼn strafdoel gekry het. Die spelers het na ʼn tyd teruggekeer en Brahim Diaz se strafdoel is bevestig voordat Pape Gueye van Senegal ʼn wendoel in ekstra tyd behaal het. Die CAF sê in sy uitspraak Senegal het die wedstryd verbeur met die gevolg dat die wedstryd beslis is as 3-0 in Marokko se guns.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-340-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-993-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 99-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….