Nuus 08:00
BULLETIN 16 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi herhaal die regering se verbintenis om geregtigheid vir apartheidsmisdade te verseker
# Die Weermag sê hulle sal die wet op enige moontlike manier afdwing
# En rugby: Die Blitsbokke is die kampioene in New York en die wenners van die 2026 Wêreldsewesreeks
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die regering bly daartoe verbind om te verseker dat persone wat apartheidsera-misdade gepleeg en in die Waarheids- en Versoeningskommissie se verslag geïdentifiseer is, vervolg moet word. Sy was gister die spreker by die Ahmed Kathrada-stigting se Sharpeville-herdenkings- en Teenrassisme-program. Kubayi sê die Nasionale Vervolgingsgesag het tot dusver elf geregtelike doodsondersoeke begin, met ses wat reeds voltooi is. Dit sluit in die COSAS 4-moorde, waar ‘n besluit geneem is dat die betrokke polisiebeamptes vervolg moet word:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê strategiese riglyne en krygsreëls is uitgereik aan alle bevelvoerders en ontplooide troepe wat deel is van Operasie Prosper. Kragtens die operasie sal meer as tweeduisend soldate, in samewerking met die SAPD, oor ‘n tydperk van 13 maande na misdaadgebiede in die Vrystaat, Gauteng, Noordwes, Wes-Kaap en Oos-Kaap ontplooi word. Die hoof van die Weermag, Rudzani Maphwanya, sê hulle sal wet en orde op alle moontlike maniere afdwing:
# Die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Bernice Swartz, het om verskoning gevra vir haar omstrede “Een Gesin, Een Brood”-veldtog. Sy het in ‘n wydverspreide video langs kratte vol brood gestaan, terwyl vrywilligers in ANC-kleure die brood aan gemeenskapslede in Gauteng uitgedeel het. Swartz sê die verspreiding van die brood was nie ‘n politieke veldtog nie, maar deel van ‘n breër voedselprojek wat deur die Benny Swartz-stigting georganiseer is. Sy het erken die voorval was besonder sensitief vir ‘n land wat met hoë vlakke van armoede worstel.
# Die Iranse minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, het bewerings ontken dat Teheran vir onderhandeling of ‘n wapenstilstand met die VSA gevra het. Dit volg nadat president Donald Trump gesê het Iran wou ‘n ooreenkoms hê, maar hy was nie bereid om daartoe in te stem nie omdat die voorwaardes nie goed genoeg is nie. Araghchi het aan CBS gesê dis ‘n oorlog van keuse deur Trump, die VSA en Israel, en dit sal duur solank as wat nodig is:
# Rugby: Die Springbok-sewesrugbyspan het Fidji met 10-7 in die eindstryd verslaan om die VSA-sewes in New York te wen en het daarmee ook die Wêreldsewesreeks-titel verseker. Gino Cupido en Tristan Leyds van die Blitsbokke het twee drieë gedruk teenoor Fidji se een, met Philip Snyman se span wat hul vierde titel in ‘n verkorte Wêreldreeks van ses toernooie verower het. Dit is ook Suid-Afrika se sewende toernooi-oorwinning op Amerikaanse bodem. Argentinië het Australië met 26-10 verslaan en derde geëindig. Intussen het Nieu-Seeland se vrouespan ‘n vyfde reekstitel ingepalm nadat hulle Australië met 22-21 geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-508-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-4-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 101-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….