Nuus 08:00
BULLETIN 15 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verdagte is gearresteer na ‘n deurbraak in Getuie D se moordsaak
# Paul Mashatile eer Mosiuoa Lekota se lewenslange verbintenis tot geregtigheid
# En Amerikaners word gewaarsku om Midde-Oosterse lande te verlaat
# ‘n Verdagte wat verbind word met die moord op Marius Van Der Merwe, ook bekend as Getuie D, is in Johannesburg in hegtenis geneem. Van der Merwe is in Desember voor sy gesin buite sy huis in Brakpan vermoor, kort nadat hy voor die Madlanga-kommissie teen hooggeplaaste amptenare van die Ekurhuleni Metropolitaanse Polisiedepartement getuig het. Nasionale polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die SAPD-taakspan het beslag gelê op die voertuig wat na bewering in die moord gebruik is:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê wyle Mosiuoa Lekota se lewe was gekenmerk deur toewyding aan geregtigheid en diens en beskryf hom as ‘n vreeslose en beginselvaste leier. Mashatile het Suid-Afrikaners gevra om Lekota se nalatenskap te eerbiedig deur die jeug te bemagtig, die nasie te genees en demokrasie te beskerm. Hy het Lekota beskryf as ‘n leier wat geglo het leierskap gaan oor diens, en dat demokrasie uiteindelik die lewens van gewone Suid-Afrikaners moet verbeter:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Verdedigingsunie het die ontplooiing van meer as twee-duisend soldate in gebiede wat deur bendegeweld en onwettige mynbou geraak word, gekritiseer. Hoofonderhandelaar Jeff Dubazane sê die stap deur president Cyril Ramaphosa hou die risiko in om grondwetlike demokrasie te ondermyn. In ‘n onderhoud met SABC News sê Dubazane die weermag is opgelei vir oorlogvoering, terwyl die polisie die verantwoordelikheid neem vir misdaadbekamping. Hy waarsku dat die land die gevaar kan loop om ‘n pad soortgelyk aan Zimbabwe te volg:
# Die Amerikaanse ambassade in Bagdad het ‘n nuwe waarskuwing uitgereik aan sy burgers om Irak onmiddellik te verlaat nadat ‘n missiel die ambassadegebou vroeg Saterdag getref het. Weens die toenemende konflik in die streek is Amerikaanse burgers ook versoek om onmiddellik Bahrein, Egipte, Iran, Israel, Jordanië, Koeweit, Libanon, Oman, Katar, Saoedi-Arabië, Sirië, die VAE en Jemen te verlaat. President Donald Trump het intussen ‘n beroep op bondgenote herhaal om te help om die strategies belangrike Straat van Hormuz te beveilig.
En nou sportnuus:
# Rugby: Die stryd tussen die Blitsbokke en hul Suidsee-mededingers Fidji duur voort om te bepaal wie vanjaar se Sewesreeks gaan wen nadat albei vir die halfeindronde van die New York Sewes gekwalifiseer het. Hulle is gelykop bo-aan die punteleer, nadat albei het ‘n wedstryd tydens die groepfase verloor het. Die Blitsbokke het hul laaste groepwedstryd met 19-12 teen Australië verloor en speel vandag teen Argentinië in hul halfeindstryd. Fidji ontmoet Australië in die ander halfeindstryd. Die span wat bo die ander eindig, sal die Wêreldreeks wen.
# En motorsport: Kimi Antonelli het op 19-jarige ouderdom die jongste renjaer ooit geword om in ‘n F1-wedren heel voor weg te spring. Hy begin eerste in Sjanghai met sy Mercedes spanmaat George Russell langs hom in die eerste ry. Russell is voor op punte in die renjaerskampioenskap nadat hy verlede naweek die Australiese Grand Prix ingepalm het en gister se snelren in China gewen het. Lewis Hamilton en Charles Leclerc van Ferrari sal derde en vierde wegspring, met die twee McLarens van Oscar Piastri en Lando Norris agter hulle. Max Verstappen in sy Red Bull spring agtste weg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….