Nuus 08:00
BULLETIN 13 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Thabo Mbeki sê die beskerming van kinders is ‘n gedeelde verantwoordelikheid
# Die weermag is amptelik ontplooi in vyf provinsies
# En ‘n Amerikaanse militêre hervullingsvliegtuig stort in Irak neer
# Oudpresident Thabo Mbeki sê dis moeilik om te beweer Suid-Afrika se siel word deur die filosofie van ubuntu gevorm wanneer miljoene kinders steeds in armoede leef. Hy het die hoofrede gelewer by die Nelson Mandela-stigting se gala-ete in Bryanston, Johannesburg, om sy 30ste herdenking te vier. Mbeki sê kinders se regte is die kern van die land se demokrasie en daarom is hul beskerming ’n gedeelde verantwoordelikheid:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê hy is besig om in samewerking met die polisie in vyf provinsies te ontplooi om toenemende geweldsmisdaad, bendebedrywighede en onwettige myn-aktiwiteite te bekamp. Die provinsies is Gauteng, die Wes- en Oos-Kaap, Noordwes en die Vrystaat. ’n Weermagwoordvoerder, Mpho Mathebula, sê die ontplooiing is deel van ’n gekoördineerde ingryping deur die groepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit. Die doel is om die betrokke gemeenskappe te bestendig en misdaadsindikate in brandpunte te ontwrig:
# Kaapstad kan toenemende druk op sy watervoorrade ondervind met ‘n hittegolf wat die afgelope week temperature tot 42 grade Celsius laat styg het. Waterbeperkings kan dalk vroeër ingestel word as verbruik aanhou styg. Damvlakke is tans op 51,8-persent, 17,5-persent laer as dieselfde tyd verlede jaar. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê omsigtige verbruik is van kritieke belang om beperkings voor die winterreënseisoen te vermy:
# ’n Amerikaanse militêre KC-135-hervullingsvliegtuig het in die weste van Irak neergestort. Twee vliegtuie was by die voorval betrokke, maar die ander een het veilig geland. Amerika se Sentrale Bevel sê die voorval is nie deur die vyand of hulleself veroorsaak nie en reddingspogings gaan voort. Volgens Reuters het die vliegtuig wat geval het, ses bemanningslede aan boord gehad. Hervullingsvliegtuie speel ’n belangrike rol in oorloë en hou vegvliegtuie en bomwerpers vol brandstof wanneer hulle lang afstande moet aflê om die teiken te bereik.
# Gholf: Die Oostenryker, Sepp Straka, is op vyf onder een van vyf voorlopers in die Spelerskampioenskap by TPC Sawgrass in Florida. Die ander vier spelers is die Amerikaners Maverick McNealy, Lee Hodges, Sahith Theegala en Austin Smotherman. Die eerste ronde is deur swaar reën belemmer en spel is uiteindelik weens donkerte gestaak. Die verdedigende kampioen, Rory McIlroy wat met rugprobleme sukkel, was na die eerste ronde sewe houe agter. Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, het ’n baansyfer 72 aangeteken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-205-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-110-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….