Nuus 08:00
BULLETIN 11 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ambassadeur Bozell wil die verswakte VSA-SA-verhouding herstel
# Die regering verwelkom die ontslag van meer as 50 korrupte immigrasiebeamptes
# En Noord-Korea veroordeel die dade van aggressie deur die VSA en Israel
# Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Brent Bozell, sê hy het met ‘n positiewe uitkyk na die land gekom om die temperatuur van die verslegtende verhouding tussen die twee nasies te verlaag. Hy het by ‘n Biznews-konferensie in Hermanus in die Wes-Kaap gepraat. Bozell sê die twee lande het groot verskille rakende internasionale regsprosedures, strategiese verhoudings en elemente van binnelandse beleid. Hy sê egter daar is vyf areas waar vordering eenvoudig behoort te wees:
# Die regering het die ontslag van meer as 50 immigrasiebeamptes verwelkom wat betrokke was by korrupsie by grensposte regoor Suid-Afrika. ‘n Verdere 38 beamptes word tans ondersoek. Die betrokke grensposte sluit in Beitbrug, Lebombo, Oshoek en Maserubrug, asook die OR Tambo Internasionale Lughawe. Die waarnemende woordvoerder van die regering, William Baloyi, sê die ontslag is deel van bykomende stappe om bedrog en korrupsie by die land se grensposte uit te roei:
# Die DA in Gauteng sê die begroting wat deur die LUR van Finansies, Lebogang Maile, ter tafel gelê is, fokus op die verkeerde prioriteite en ignoreer die dringende behoefte om die ineenstortende infrastruktuur, wat tot die water- en elektrisiteitskrisis lei, aan te spreek. Maile het Dinsdag ‘n begroting van 179,2-miljard-rand vir die 2026/2027-boekjaar ter tafel gelê. Ruhan Robinson van die DA sê die instandhoudingsbehoeftes is vir etlike jare erg verwaarloos:
# Noord-Korea het die Verenigde State en Israel beskuldig dat hulle streeksvrede vernietig en onbestendigheid wêreldwyd vererger deur ‘n onwettige militêre aanval op Iran. Dit volg terwyl Israel ‘n nuwe vlaag aanvalle in die Iranse hoofstad, Teheran, en ook in ‘n voorstad van Beiroet in Libanon van stapel gestuur het. Noord-Korea sê hulle ondersteun die Iranse volk se keuse van die nuwe opperleier, Mojtaba Khamenei. Die land sê retoriese dreigemente en militêre optrede wat daarop gemik is om ‘n ander land se regering te ondermyn, kan nooit geduld word nie.
# Krieket: Die gewese Australiese aanvangskolwer Matthew Hayden gaan Gujarat Titans se kolwers afrig in vanjaar se Indiese Premierliga. Hy het altesaam 273 wedstryde vir Australië gespeel en 15-duisend lopies aangeteken voor hy in 2009 uit internasionale krieket getree het. Hayden het ook 32 IPL-wedstryde vir Chennai Super Kings gespeel en hulle in 2010 gehelp om die titel te beklink. Die 54-jarige sê goeie kolfwerk plaas druk en skitterende kolfwerk wen wedstryde, wat die standaard is wat hy wil stel. Vanjaar se IPL begin die 28ste van die maand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-690-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-212-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….