Nuus 08:00
BULLETIN 10 Maart 2026 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa doen ‘n beroep op die beëindiging van vyandelikhede in die Midde-Oosterse konflik
# Donald Trump sê die oorlog in Iran sal binnekort verby wees
# En die liggaam van een van die vyf mynwerkers wat ondergronds vasgekeer is by die Ekapa-myn, is gevind
# President Cyril Ramaphosa het sy kommer oor die hernude konflik in die Midde-Ooste herhaal. Die geweld duur reeds meer as ’n week en neem toe met Iran wat opnuut missiel- en hommeltuig-aanvalle op Israel en Amerikaanse basisse in die Midde-Ooste uitvoer en energie-infrastruktuur in die Golf teiken. Ramaphosa het gister tydens sy staatsbesoek aan Brasilië alle partye aangemoedig om onmiddellik na die onderhandelingstafel terug te keer:
President Donald Trump van Amerika sê intussen hulle het goeie vordering gemaak in die oorlog teen Iran en dat hulle militêre optrede in Teheran binnekort kan eindig. Amerika se weermag het meer as vyf-duisend teikens getref sedert die konflik begin het, terwyl Iran wraakaanvalle op Israelse en Amerikaanse basisse in die Midde-Ooste uitgevoer het. Die dodetal in Teheran staan op een-duisend-332. Trump sê Amerika het tot dusver nog nie die belangrikste teikens in Iran aangeval nie:
# Die parlementêre ad hoc-komitee hoor vandag getuienis aan van die waarnemende nasionale adjunkkommissaris vir Misdaadopsporing en afdelingskommissaris vir Speur- en Forensiese Dienste, Hilda Senthumule. Die geskorste nasionale adjunkpolisiekommissaris, Shadrack Sibiya, beskuldig haar dat sy bevoordeel is deur die vermeende misdaadbaas, Vusimuzi “Cat” Matlala. Senthumule ontken die bewerings. Die komitee, wat bewerings van korrupsie in die strafregstelsel ondersoek, sal ook verdere getuienis van die parlementslid Fadiel Adams aanhoor.
# Die soek- en reddingspogings by die Ekapa-myn in Kimberley in die Noord-Kaap sal vandag hervat word. Dit volg nadat die liggaam van een van die vyf mynwerkers gevind is wat sedert verlede maand ondergronds vasgekeer is. Die werkers het vermis geraak ná ‘n ondergrondse moddervloed by die Du Toitspan-skag van die myn. Spanne ondervind uitdagings om die plek te bereik waar die mans gewerk het weens kommer oor veiligheid van die ondergrondse strukture. Ekapa Minerals en Ekapa Resources het intussen om likwidasie aansoek gedoen.
# Rugby: Die Universiteit van Pretoria se Tuks het die Sentrale Universiteit van Tegnologie met 78-17 verpletter om ná die Varsitybeker se vierde ronde die enigste onoorwonne span te bly. Die verdedigende kampioene, die Universiteit van Kaapstad se Ikeys, het met aanvallende spel die Universiteit van Johannesburg met 87-28 afgeransel. Die Maties van Stellenbosch se veldtog is weer op dreef nadat hulle die nuwelinge, Emeris, met 55-20 verslaan het. Noordwes-universiteit se Arende is ook weer op die wenpad na hul 45-31-bonuspuntoorwinning oor die Universiteit van die Vrystaat se Shimlas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-95-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-164-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-en-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….