Nuus 08:00
BULLETIN 5 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile lig die Raad van Provinsies in oor pogings om dienslewering te verbeter en misdaad te bestry
# Die Amerikaanse Senaat stem teen ‘n resolusie wat Trump se oorlogsmagte in Iran kan beperk
# En die SA veteraan-akteur en komediant, Soli Philander, is oorlede
# Adjunkpresident Paul Mashatile antwoord vandag in Kaapstad vrae in die Nasionale Raad van Provinsies oor ’n reeks bestuurs- en diensleweringskwessies. Volgens die Presidensie sal die adjunkpresident praat oor die toename in onwettige mynbedrywighede in Gauteng se Oos- en Wes-Rand, en die ontbloting van georganiseerde misdaadnetwerke en -dienste. Mashatile sal ook regstellende maatreëls uiteensit wat die groepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit ingestel het om korrupsie in die SAPD en die regstelsel as geheel op te spoor en te voorkom.
# Die EFF sê sy Inkontrakteringswetsontwerp wil die manier herstruktureer waarop die staat noodsaaklike dienste wat op ’n deurlopende en langtermynbasis nodig is, verkry en lewer. Die party het die wetgewing aan die parlementêre portefeuljekomitee oor Staatsdiens en Administrasie voorgelê. Omphile Maotwe van die EFF sê die wetsontwerp moet die uitkontrakteringmodel van die post-1994 staatsdiensadministrasie vervang wat gekenmerk is deur korrupsie, buitensporige kostes, swak kontrakbestuur en uitgeholde interne staatsvermoë:
# Republikeine in die Senaat het teen ’n resolusie gestem wat vereis dat president Donald Trump die kongres se goedkeuring nodig het vir toekomstige militêre optrede teen Iran. Die wetgewing, bekend as ’n oorlogsmag-resolusie, het met 47 stemme teen 53 misluk. Die Demokratiese senator Chris Murphy het aangevoer die resolusie moet keer dat Trump vorige presidente se foute in Afghanistan, Libië en elders herhaal. Die Republikeinse Huis-speaker, Mike Johnson, sê die konflik voldoen nie aan die definisie van ’n oorlog wat die kongres se goedkeuring volgens die grondwet vereis nie.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê die Nasionale Tesourie het amptelik die nodige geld na die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging oorgeplaas om in die volgende seisoen videohulp aan skeidsregters te verskaf. Die volg op versoeke vir die stelsel weens die gehalte van skeidsregters se blaaswerk in die Premier Sokkerliga. Na raming sal die videostelsel sowat 80-miljoen-rand kos. McKenzie sê die geld aan die sokkervereniging sluit ook opleiding van skeidsregters en tegnologiese installasies by stadions in:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-493-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-187-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte: Die gewilde Suid-Afrikaanse akteur, komediant, aanbieder en draaiboekskrywer, die 65-jarige Soli Philander, is gister dood. Hy was bekend en geliefd in televisieprogramme soos die Afrikaanse musiekvasvra-program, Liriekeraai, en die Suid-Afrikaanse weergawe van Are You Smarter than a 5th Grader?. Philander het die afgelope jare in verskeie films en televisieprogramme verskyn, insluitend Arendsvlei, The Road to Mecca, Devil’s Peak en Die Prins van Pretoria. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê Philander het baie lewens deur sy werk geraak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….