Nuus 08:00
BULLETIN 4 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Manamela verdedig besluit om drie SETA’s onder administrasie te plaas
# Stad Johannesburg sê die ineengestorte Ormonde-gebou is onwettig opgerig
# En Kanada se eerste minister sê die Amerikaans-Israelse oorlog met Iran is ’n mislukking van internasionale orde
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê om sekere Plaaslike Regering, Dienste en Konstruksiesektor Onderwys- en Opleidingsowerhede onder administrasie te plaas is die korrekte stap na ernstige regeringsmislukkings. Manamela sê administrateurs maak vordering om die SETA’s te herstel. Hy het ook bevestig dat die Departement enige hofuitdagings teen die ingryping sal verdedig:
# Die MK-party sê in plaas van dapper strukturele hervorming en beslissende regering, het Suid-Afrika onder president Cyril Ramaphosa se leierskap weifeling, besluiteloosheid en teenstrydighede beleef. Dit volg nadat die Nasionale Vergadering ’n salarisverhoging van 3,8-persent vir Ramaphosa goedgekeur het. Mzwanele Manyi van die MK-party sê Suid-Afrika verdien leierskap wat teikens haal, hoop herstel en meetbare vordering lewer, en wat nie teen die gevolge van sy mislukkings beskerm word nie:
# Die Stad Johannesburg sê voorlopige ondersoeke het bevestig dat die gebou wat in Ormonde ingetuimel het, onwettig in aanbou was en die nodige goedkeurings en ontwikkelingsprosedures omseil het. Dele van die tweede verdieping se betonvloer het Maandag ingestort en nege werkers se dood veroorsaak. Die metro sê die voorlopige ondersoek het ook onthul dat die gebou se eienaars en ontwikkelaars nie die wettige vereistes en regulasies oor ontwikkelingbeplanning nagekom het nie. Hy sê daar is bewyse dat die regsreëls in hierdie ontwikkeling heeltemal geïgnoreer is.
# Kanada se eerste minister, Mark Carney, sê die Amerikaans-Israelse oorlog teen Iran is nog ’n voorbeeld van die internasionale orde se mislukking. Amerika sê hy het meer as een-duisend-700 teikens in Iran getref sedert hy Saterdag met militêre optrede begin het. Teheran het geregeer met ’n vlaag aanvalle in die Midde-Ooste. Carney sê al beskou Kanada Iran se kernprogram as ’n ernstige globale bedreiging, vra hulle dat vyandelikhede vinnig afgeskaal word:
# Rugby: Nieu-Seeland Rugby het Dave Rennie as die nuwe hoofafrigter van die All Blacks aangestel na Scott Robertson in Januarie die pos verlaat het. Die 62-jarige gewese breier van die Wallabies het die wedloop teen die skynbare voorloper, Jamie Joseph, gewen. Rennie sal eers sy verpligtinge met die Kobelco Kobe Steelers in Japan afhandel voor hy die All Blacks gaan voorberei vir die Julie-reeks tuis teen Frankryk, Italië en Ierland. Die voorsitter van Nieu-Seeland Rugby, David Kirk, sê Rennie het ‘n duidelike rigting vir die span met die oog op die 2027-Wêreldbekertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-274-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-158-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-en-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….