Nuus 08:00
BULLETIN 3 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Tesourie sê Suid-Afrika se ekonomie is voorbereid op die Iran-oorlog
# Landbougroepe neem die stryd teen bek-en-klouseer hof toe
# En rugby: UP-Tuks bly onoorwonne in die Varsitybeker
# Die Nasionale Tesourie sê Suid-Afrika se sterker staatsfinansies gee die land ’n redelike buffer om skokke van buite, soos die konflik in Iran, te deurstaan. Ekonome waarsku ’n uitgerekte konflik kan oliepryse aansienlik laat klim en verbruikersvertroue ondermyn. Die Tesourie se direkteur-generaal, Duncan Pieterse, het aan Bloomberg gesê slegs ’n baie groot skok sal die land se fiskale planne laat ontspoor. Hy sê die oorlog in Iran kan Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte raak indien dit ’n blywende invloed op wêreldwye groei of oliepryse het.
Die president van Amerika Donald Trump sê intussen hy het besluit om die oorlog teen Iran te begin omdat dit hul laaste, beste kans was om toe te slaan, en om die onuitstaanbare bedreigings uit te skakel wat die nare en boosaardige regering van dié land ingehou het. Iran se opperleier, Ayatollah Ali Khamenei, is dood in ‘n aanval Saterdag op Iran. Die regering van Iran het vergeldingsaanvalle teen militêre basisse van Israel en Amerika in die Midde-Ooste uitgevoer. Trump sê die doelwitte van Operasie Epiese Woede is duidelik:
# Landbougroepe het ‘n dringende aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om regeringsbeperkings te keer wat boere verhinder om hul kuddes self teen bek-en-klouseer in te ent. Die Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief, Vrystaat Landbou en Sakeliga voer aan dat hierdie reëls onwettig is en verdere skade aan boere se lewensbestaan veroorsaak namate die siekte verder versprei. Die uitvoerende hoof van Saai, Francois Rossouw, sê hulle soek ‘n tussentydse interdik om wettige privaat inenting toe te laat:
# Die Stad Johannesburg sê ’n voorlopige ondersoek kon geen bewys vind van goedgekeurde bouplanne vir die struktuur wat in Ormonde, suid van Johannesburg, ineengestort het nie. Ses mense is dood nadat ’n deel van die struktuur in aanbou by die Sixth Amethyst Business Park ingetuimel en werkers onder die puin vasgekeer het nie. Drie mense word nog vermis. Johannesburg se stadsbestuurder, Floyd Brink, sê in ’n gebied soos hierdie moes hulle ’n raamwerk vir ruimtelike ontwikkeling, asook ander goedgekeurde bouplanne hê:
# Rugby: Die verdedigende kampioene van die Universiteit van Kaapstad het in die Varsitybeker se derde ronde die maksimum punte behaal met ’n bonuspunt-oorwinning van 32-10 oor die nuwelinge, Emeris. Die Universiteit van Pretoria se Tuks het die Maties van Stellenbosch met 33-17 verslaan om die enigste onoorwonne span in vanjaar se kompetisie te bly. Die Universiteit van Johannesburg het hul tweede oorwinning behaal toe hulle die Noordwes-universiteit se Arende met 35-29 verslaan het. Die Vrystaatse Shimlas het die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein met 71-19 verpletter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-7-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-486-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-365-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-en-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….