Nuus 08:00
BULLETIN 2 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Iranse ambassade in Suid-Afrika help om die veilige terugkeer van gestrande Suid-Afrikaners te verseker
# Die parlementêre ad hoc-komitee sal ‘n regsmening ontvang oor Paul O’Sullivan
# En sokker: Namibië skok Suid-Afrika met ’n wen in die COSAFA-vrouekampioenskap
# Die Iranse ambassade in Suid-Afrika werk saam met die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking om Suid-Afrikaners in Teheran by te staan. Dit volg na Amerika en Israel se gesamentlike aanvalle die naweek in Iran. Suid-Afrikaners is in die Midde-Ooste gestrand nadat baie lugrederye hul vlugte moes kanselleer. Iran se ambassadeur in Suid-Afrika, Seyed Mostafa Daryabari, sê hulle is in regstreekse kontak met hul amptenare in Teheran om Suid-Afrikaanse burgers se veilige terugkeer te verseker.
# President Donald Trump sê daar sal waarskynlik nog Amerikaanse ongevalle wees as deel van Operasie Epic Fury in Iran. Drie Amerikaanse soldate is tydens die operasie dood en vyf ander is ernstig gewond. Iran se opperleier Ali Khamenei is Saterdag in gesamentlike aanvalle deur Amerika en Israel dood. Iran het gereageer met aanvalle op Amerikaanse weermagbasisse in die Midde-Ooste. Trump sê die operasie sal met volle mag voortgaan tot al hul doelwitte bereik is:
# Die Parlement se ad hoc-komitee gaan vandag die jongste inligting rakende die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan ontvang, asook ‘n regsmening wat hulle aangevra het oor sy uitstappery verlede week. Hy het Donderdag die vergadering tydens sy ondervraging verlaat om ‘n vlug te haal. Lede van die komitee eis dat hy uitstaande vrae moet gaan beantwoord. Die EFF het intussen ‘n strafregtelike klag teen O’Sullivan aanhangig gemaak. Die komitee sal ook aandag skenk aan die skedulering van getuies en korrespondensie wat hulle ontvang het.
# Gauteng se LUR vir Finansies, Lebogang Maile, sê die toevloei van mense na die provinsie bly Gauteng se grootste strukturele uitdaging. Nagenoeg 230-duisend mense migreer jaarliks na die provinsie, waarvan ongeveer 50-duisend kinders vir skoolonderrig. Maile sê hulle het vir hierdie boekjaar nagenoeg 1,1-miljard-rand aan leerdervervoer toegeken, maar stygende leerdergetalle plaas steeds druk op die program. Hy sê hulle hoop hulle kan deur vennootskappe tussen verskaffers van private en openbare vervoer volledig aan die vraag na leerdervervoer voorsien:
# Sokker: Namibië het die sewemalige kampioene, Banyana Banyana, met 2-1 in ekstra tyd geklop en die COSAFA-vrouekampioenskap in Polokwane gewen. Suid-Afrika het in die eerste helfte voorgeloop na ’n doel deur Nthabiseng Majiya. Die Brave Gladiators het in die tweede helfte ingehaal toe plaasvervanger Muhinatjo Hanavi sake gelykop gemaak het. Memory Ngonda het in ekstra tyd die wendoel aangeteken en die Namibiërs se eerste COSAFA-kroon verseker. Banyana Banyana-afrigter Desiree Ellis sê hulle is teleurgesteld:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-676-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-358-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 706-dollar-en-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….