Nuus 08:00
BULLETIN 28 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Santaco belowe sy steun aan wetstoepassing om die bloedvergieting in die taxibedryf te beëindig
# Die DA vra vir aanspreeklikheid in die lig van die presidensiële paneel oor die Will for Peace-oefening
# En ‘n Bulgaarse voortvlugtige word na jare op vlug in Kaapstad vasgetrek
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad belowe sy volle steun aan wetstoepassingsagentskappe om geweld in die taxibedryf te beëindig. Dit volg nadat ‘n taxibestuurder en ‘n 14-jarige leerder in Atlantis in die Wes-Kaap dood is, met twee ander leerders wat beseer is. Die raad het die aanval veroordeel, kalmte gevra en gevra dat geskille op wettige maniere opgelos moet word. Rebecca Phala van Santaco het haar meegevoel met die betrokke families en die gemeenskap betuig:
# Die DA sê die presidensiële ondersoekpaneel oor die Will for Peace-oefening moet lei tot aanspreeklikheid in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Die party waarsku dat vertragings en ‘n ineenstorting van die bevelsketting ernstige gebreke aandui, en doen ‘n beroep op volle deursigtigheid met die ondersoek. Chris Hattingh van die DA dring aan president Cyril Ramaphosa moet verseker die paneel se bevindinge moet vrygestel word, en daar moet gevolge wees vir diegene wat nie instruksies gevolg het nie:
# Die Suid-Afrikaanse Gemeenskap van Geloofsgebaseerde Broederskappe en Federasies sê korrupsie wat by die Departement van Binnelandse Sake blootgelê is, moet nie gebruik word om die regulering van kerke te regverdig nie. Die organisasie veroordeel omkopery en bedrog binne die regering, maar beklemtoon dat godsdiensvryheid ‘n grondwetlike reg is en dat pastore nie deur die staat gelisensieer of beheer moet word nie. Bert Pretorius van die organisasie sê die fokus moet op die hervorming van Binnelandse Sake wees:
# ’n Veroordeelde Bulgaarse dwelmsmokkelaar sal Maandag in die Wynberg-landdroshof in die Wes-Kaap vir uitlewering verskyn. Stanislav Stamenov is in 2009 in Roemenië tot 16 jaar tronkstraf gevonnis vir heroïenhandel. Die woordvoerder van die Polisie, Athlenda Mathe, sê Stamenov is gister deur die polisie se nasionale ingrypingseenheid in hegtenis geneem na ‘n rooi kennisgewing deur Interpol. Athlenda het bygevoeg Stamenov was deel van ‘n sindikaat wat dwelms in Roemenië ingesmokkel het. Hy het in Kaapstad weggekruip en vir verskeie jare as ‘n instrukteur by ‘n bekende fiksheidsklub gewerk.
# Die Trump-administrasie het Iran gister amptelik verklaar as ‘n staat wat mense onregmatig aanhou. Hierdie stap volg terwyl die VSA druk uitoefen vir ‘n nuwe kernooreenkoms met Iran en die land met militêre optrede gedreig het. Die uitvoerende bevel is bedoel om lande te ontmoedig om Amerikaanse burgers onwettig aan te hou en druk uit te oefen om onregmatige aangehoudenes vry te laat. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê Iran het dekades lank voortgegaan om onskuldige Amerikaners, sowel as burgers van ander nasies, aan te hou as politieke hefboom teen ander state.
# En rugby: Springbok-sewestaatmaker, Impi Visser is terug as kaptein van die Blitsbokke vir die Noord-Amerikaanse skof van die Wêreldsewesreeks. Dit is Visser se 50ste wêreldreekstoernooi. Die Blitsbokke-hoofafrigter Philip Snyman het ses veranderinge aan die groep aangebring wat aan die begin van die maand as wenners uit Perth teruggekeer het. Selvyn Davids, Ronald Brown en Dewald Human sal na verwagting na besering weer kan speel. Die volgende twee wêreldreekstoernooie is op agtereenvolgende naweke in Vancouver op 7 en 8 Maart en ‘n week later in New York.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….