Nuus 08:00
BULLETIN 27 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC in die ad hoc-komitee wil stappe teen Paul O’Sullivan hê
# OUTA waarsku die voorverkiesingsbegroting gaan dalk politiek bo hervorming stel
# En krieket: Die Proteas is deur na die T20 Wêreldbeker-halfeindronde
# Lede van die parlementêre ad hoc-komitee dreig die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, met regsaksie. Dit volg nadat hy gister tydens ondervraging die vergadering verlaat het omdat hy volgens hom ’n geskeduleerde vlug moes haal. Die komitee ondersoek bewerings van politieke inmenging in die strafregstelsel. Khusela Diko Sangoni van die ANC sê hulle gaan aandring op ’n boete of tronkstraf en sê niemand mag die Parlement minag nie:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, sê die 2026/2027-begroting bied ‘n buffer vir belastingbetalers en klein besighede met die onttrekking van die voorgestelde belastingverhoging van 20-miljard-rand. Die organisasie waarsku egter dat die tydsberekening voor die plaaslike regeringsverkiesing kommer wek met politieke motiewe wat langtermynhervorming kan oorheers. Stefanie Fick van OUTA sê hoewel die verligting grasie bring, sal verhogings in die brandstofheffing en die stygende skuld van die Padongelukkefonds steeds druk op motoriste plaas:
# Die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, het nog ‘n mosie van wantroue oorleef. Dit volg nadat die voorsteller van die mosie, Kabelo Gwamanda van Al Jama-ah en die sekondant, Yongama Zigebe van die United Democratic Movement nie teenwoordig was in gister se raadsvergadering nie. Al Jama-Ah het voorheen aangevoer Morero het misluk sonder besliste leierskap en met geen dienslewering aan die inwoners van Johannesburg nie. Hy is ook daarvan beskuldig dat hy geen ag slaan op die kommer wat sy koalisievennote uitspreek nie.
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, sê hulle maak goeie vordering in die diplomatieke gesprekke met Amerika. Die derde ronde hoëvlak-kern-samesprekings in Genève, Switserland, het blykbaar geëindig met ’n ooreenkoms vir nog ’n vergadering volgende week in Wene in Oostenryk. Araghchi beskryf die onderhandelinge as een van die mees intense en langste rondes samesprekings. Hy sê daar is wedersydse begrip dat hulle sal voortgaan om te onderhandel oor sake wat noodsaaklik is vir enige ooreenkoms, insluitend die opheffing van sanksies en kern-verwante stappe.
# Krieket: Die Proteas het amptelik vir die T20-Wêreldbeker se halfeindronde gekwalifiseer. Dit volg na Suid-Afrika se nege-paaltjie-sege teen die Wes-Indies in Ahmedabad en die feit dat die verdedigende kampioene, Indië, Zimbabwe in Chennai met 72 lopies verslaan het. Die Proteas sal nou probeer om hul wenrekord van 100-persent voort te sit deur Zimbabwe Sondag in hul laaste Super 8-wedstryd in Delhi te klop. Kaptein Aiden Markram sê hulle aanvaar niks as vanselfsprekend nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-90-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-171-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-181-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….