Nuus 08:00
BULLETIN 24 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die oorblywende Suid-Afrikaanse mans wat in die Rusland-Oekraïne-oorlog vasgevang is, is op pad huis toe
# Volgens ’n opname glo 96-persent van Suid-Afrikaners daar is geen geregtigheid vir misdaad nie
# En die voormalige Britse ambassadeur in die VSA, Peter Mandelson, is in hegtenis geneem
# ‘n Tweede groep Suid-Afrikaanse mans wat volgens berigte gelok is om vir Rusland in sy oorlog teen Oekraïne te veg, het gister in Moskou aangekom en vlieg hopelik binnekort terug huis toe. Vier van die oorspronklike groep van 17 het verlede week in Suid-Afrika aangekom. News24 berig elf van die oorblywende 13 het in Moskou aangekom. ʼn Beseerde lid van die groep is in die hospitaal en een het besluit om in Rusland te bly. Die mans is blykbaar onder die voorwendsel van werksgeleenthede na Rusland gelok.
# Action Society sê openbare vertroue in die regstelsel is op die randjie van ineenstorting. Volgens hul nuut bekendgestelde vertrouensaanwyser het vertroue in die strafregstelsel slegs vier uit 100 punte behaal, met die meeste respondente wat glo misdadigers kom weg met ernstige oortredings terwyl vertragings in polisie- en hofprosesse kritieke vlakke bereik het. Juanita du Preez van Action Society sê dit is noodsaaklik om openbare vertroue te herstel vir die stelsel om doeltreffend te funksioneer:
# Gauteng se premier Panyaza Lesufi sê die provinsie het meer as nege-miljard-rand van sy e-tolskuld van 20-miljard-rand afbetaal. Die e-tolstelsel is in 2024 amptelik geskrap. Die provinsiale regering het onderneem om 30-persent van die e-tolskuld te betaal, terwyl die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap 70-persent van die regering se skuld sou vereffen. Lesufi het gisteraand tydens sy provinsiale rede gesê die besluit om die skuld oor te neem skep geleenthede om nuwe paaie te bou:
# Die voormalige Britse ambassadeur in Amerika, Peter Mandelson, is gister gearresteer omdat hy verdink word van wangedrag in ʼn staatsamp. Die 72-jarige Mandelson het volgens berigte marksensitiewe staatsinligting aan die veroordeelde pedofiel, wyle Jeffrey Epstein, gegee terwyl hy van 2008 tot 2010 ʼn minister in Gordon Brown se regering was. Hy het vroeër ontken dat hy iets verkeerd gedoen het. Mandelson se inhegtenisneming volg dae nadat koning Charles se broer, Andrew Mountbatten-Windsor, ook weens sy bande met Epstein gearresteer is oor moontlike wangedrag in ʼn staatsamp.
# Rugby: Ikeys, die verdedigende kampioene van die Universiteit van Kaapstad, is na verlede week se nederlaag terug op die wenpad nadat hulle die Sentrale Universiteit van Tegnologie met 83-34 verpletter het in die Varsitybeker se tweede ronde. Die Noordwes-universiteit se Arende spog met twee seges nadat hulle die nuwe Emeris-span met 63-15 afgeransel het. Die Universiteit van Pretoria se Tuks het agtereenvolgende oorwinnings behaal en die Vrystaatse Shimlas met 38-22 verslaan. Die Maties van Stellenbosch is ook weer op die wenpad met ʼn 39-19-oorwinning oor die Universiteit van Johannesburg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-80-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-187-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-en-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….