Nuus 08:00
BULLETIN 23 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum wil die privaat sektor se verkryging van bek-en-klouseer-entstowwe fasiliteer
# Robert Mugabe se seun sal na verwagting vandag in die hof verskyn vir poging tot moord
# En Mexiko se mees gesoekte dwelmleier, El Mencho, is tydens militêre optrede dood
# AfriForum sê hulle onderhandel tans met kundige rolspelers om die privaat sektor se verkryging, verkoop en verspreiding van bek-en-klouseer-entstowwe te fasiliteer. Suid-Afrika het oor die naweek een-miljoen bek-en-klouseer-entstowwe van BioGenesis Bago ontvang. Lambert de Klerk van AfriForum sê die regering het nie die vermoë om die enorme taak van die verkryging en inenting van ongeveer 28-miljoen dosisse entstof sonder die hulp van die privaat sektor aan te pak nie:
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat korrupsiebewerings in die strafregstelsel ondersoek, vergader vandag om huishoudelike sake, soos die skedulering van getuies, te bespreek. Vrae aan president Cyril Ramaphosa en korrespondensie wat ontvang is, sal ook bespreek word. Komiteelede wil hê die president moet antwoord op kwessies rakende die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde, al was hy nie ‘n getuie nie en word nie daarby betrek nie. Die komitee het tot 31 Maart uitstel gekry om sy werk af te handel.
# Wyle oudpresident Robert Mugabe van Zimbabwe se seun, Bellarmine Mugabe, en sy lyfwag sal vandag in die Alexandra-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord. Die twee is in hegtenis geneem nadat ‘n werknemer by die Mugabe-gesinswoning in Hyde Park, Johannesburg, verlede week geskiet is. Mugabe het na bewering aan die polisie gesê die man wat geskiet is, is sy sekuriteitswag en dat hy homself tydens ‘n geveg geskiet het. Hy beweer dat die geskil voortspruit uit die afdanking van die wag omdat hy tradisionele rituele op die eiendom uitgevoer het.
# Een van Mexiko se berugste kartelleiers en die wêreld se mees gesoekte dwelmhandelaar is dood tydens ʼn sekuriteitsoperasie om hom te arresteer. Nemesio Oseguera Cervantes of “El Mencho”, was hoof van die Jalisco New Generation-kartel. Die 59-jarige Cervantes en minstens ses vermeende medepligtiges is dood. Amerika het inligting aan die Mexikaanse ministerie van verdediging, wat met die operasie gehelp het, verskaf. Amptenare sê vermeende lede van georganiseerde misdaad het ná die operasie ongebreidelde geweld in agt state laat uitbreek. Busse en sakeondernemings is aan die brand gesteek en botsings met veiligheidsmagte het voorgekom.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Casey Jarvis het die Kenia Ope in Nairobi met drie houe gewen en sy eerste DP World Tour-titel opgeraap. Die 22-jarige Jarvis, wat 195ste op die wêreldranglys is, het in die laaste ronde ʼn agt onder 62 aangeteken en die toernooi onder 25 geëindig. Die Amerikaner Davis Bryant is tweede en nog ʼn Suid-Afrikaner, Hennie Du Plessis, is derde. Jarvis sê dit was wonderlik om vir die eerste keer voor sy pa te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-647-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-171-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….