Nuus 08:00
BULLETIN 21 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Polisiemoorde styg ten spyte van ‘n algehele afname in misdaad
# Siviele skuldsake daal skerp in 2025
# En rugby: Die Leeus en Haaie pak mekaar in die naweek se enigste Verenigde Rugbykampioenskappe -aksie
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het kommer uitgespreek oor die toename in moorde op polisiebeamptes, ten spyte van ‘n algehele afname in geweldmisdaad. Volgens die jongste misdaadstatistiek is 23 beamptes tussen Oktober en Desember dood, met byna 80-persent van hulle wat van diens af was. Cachalia het aan die media gesê hierdie tendens is kommerwekkend, en stappe word gedoen om wetstoepassingspersoneel beter te beskerm en verdere tragedies te voorkom:
Rise Mzansi sê intussen baie lewens word steeds verloor weens geweldmisdaad, ten spyte van gerapporteerde dalings in sommige misdaadkategorieë. Die party het verwys na die byna ses-duisend moorde wat tussen Oktober en Desember aangeteken is, met die hoogste getalle in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal. Hy het ook kommer uitgespreek oor die toenemende voorkoms van verkragting, huishoudelike geweld, afpersing en die gebruik van onwettige vuurwapens. Makashule Gana van Rise Mzansi vra vir sterker polisiëring en beter toegeruste speurders:
# Statistieke Suid-Afrika het ‘n skerp afname in siviele skuldsake vir die vorige jaar aangekondig. Die aantal dagvaardings wat uitgereik is, het met 11,6-persent afgeneem, terwyl siviele vonnisse met 11,5-persent gedaal het vergeleke met 2024. Vhonani Kwinda van Statistieke SA sê die totale waarde van skuldvonnisse het ‘n geringe daling getoon met 1,4-persent, wat dui op ‘n effense afname in skuldverwante hofbedrywighede:
# Die DA in die Oos-Kaap het die toewysing van 55-miljoen-rand in noodbefondsing verwelkom om entstowwe te koop om die bek-en-klouseer-uitbreking te beperk. Die party sê die befondsing sal help om vee, boere en voedselsekerheid in die provinsie te beskerm. Hy het ook die minister van Landbou, John Steenhuisen, geprys vir sy hulp met die afkondiging van die ramptoestand, wat die vrystelling van fondse moontlik gemaak het. Heinrich Müller van die DA het die LUR vir Landbou, Nonceba Kontsiwe, versoek om te verseker dat entstowwe vinnig en regverdig versprei word.
# Sewe liggame is in die Baikalmeer in Rusland se Siberië gevind nadat ‘n toerbus met Chinese toeriste in die water beland het. Die ongeluk het gebeur toe die ys gebreek het toe die bus gister oor die bevrore meer gery het. Een van die Chinese toeriste op die bus het daarin geslaag om te ontsnap. ‘n Strafsaak word ondersoek. Reddingswerkers het die toneel met ‘n onderwaterkamera geïnspekteer. Die water op die toneel van die ongeluk is 18-meter diep. Die Baikalmeer is die wêreld se diepste varswatermeer en ‘n gewilde bestemming vir toeriste.
# En rugby: Die Leeus verwelkom die Haaie vanmiddag in Johannesburg in die naweek se enigste Verenigde Rugbykampioenskap wedstryd. Die wedstryd is vroeër tot vandag uitgestel. Die twee spanne word tans deur net ses punte op die punteleer geskei, met die Haaie negende en die Leeus tiende. Die wenner sal na die boonste agt opskuif wat uiteindelik vir die volgende ronde sal kwalifiseer. Die derde geplaaste Stormers en die Bulls, wat sewende is, keer volgende naweek terug na ‘n blaaskans van byna ‘n maand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….