Nuus 08:00
BULLETIN 19 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê die DA moet besluit of hulle in die regering of deel van die opposisie wil wees
# Minister Enoch Godongwana sal waarskynlik belastingskokke vermy in die verkiesingsjaar
# En een van Suid-Afrika se invloedrykste denkers, Clem Sunter, is oorlede
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die DA moet besluit of hy in die regering wil wees, of in die opposisie, omdat hy nie in beide kan wees nie. Hy het die opmerking Woensdag in die Nasionale Vergadering gemaak tydens die debat oor die staatsrede. Dit volg nadat Baxolile Nodada van die DA gesê het die party het deel geword van die regering van nasionale eenheid om Suid-Afrika te red en die mislukte beleidspunte van die verlede teen te staan. Lamola sê die parlement het met twee gevaarlike uiterstes te doen:
# Die ekonoom van die Stellenbosch Sakeskool, André Roux, sê daar word verwag dat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, vanjaar se begroting bestendig sal hou, met geen groot belastingveranderinge voor die plaaslike verkiesing nie. BTW en persoonlike inkomstebelastingkoerse sal na verwagting onveranderd bly, hoewel sondebelasting kan styg en die verskuiwing van belastingkerwe die belastinglas indirek kan verhoog. Roux sê maatskaplike hulptoelaes sal waarskynlik voortduur, maar besteding aan infrastruktuur en universele inkomsteplanne sal beperk bly:
# Agt van die nege skiërs wat vermis was ná Dinsdag se sneeustorting naby Lake Tahoe in Kalifornië, is dood gevind. Een skiër word steeds vermis en is vermoedelik dood. Hulle was deel van ‘n groep van 15 op ʼn driedaagse uitstappie in Kalifornië se Sierra Nevada-berge. Ses mense wat verskeie beserings opgedoen het, is gered. Nevada County-sheriff Shannan Moon sê die agt skiërs se liggame is steeds onder die sneeu vasgekeer:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, is deur na die kwarteindronde van die Katar Ope in Doha. Die Spanjaard het die Fransman, Valentin Royer, geklop en kom teen die Rus, Karen Khachanov, te staan vir ʼn plek onder die laaste vier. Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner van Italië, het die Australiër, Alexei Popyrin, verslaan om die kwarteindronde te haal. Die verdedigende kampioen van Rusland, Andrey Rublev, het gemaklik met die Hongaar, Fabian Marozsan, afgereken. Stefanos Tsitsipas van Griekeland het die Rus, Daniil Medvedev, geklop om deur te dring na sy eerste toervlak-kwarteindronde in tien maande.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-765-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-968-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar per vat.
# En ter afsluiting: Die bekende Suid-Afrikaanse toekomskundige en strateeg, Clem Sunter, is op 81 na ʼn stryd teen kanker dood. Hy het in die 1980’s en 1990’s bekendheid verwerf vir sy besondere gebruik van scenario-beplanning om te help om die land se politieke en ekonomiese toekoms uiteen te sit. Sunter se bekende “High Road vs Low Road”-scenario’s het teenstrydige sienings van Suid-Afrika se toekoms-moontlikhede gebied. Hy het ook talle boeke geskryf, en van die gewildstes sluit in The World and South Africa in the 1990s en The Mind of a Fox.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….