Nuus 08:00
BULLETIN 18 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa sê die Witskrif oor die Hersiening van Plaaslike Regering sal ‘n deurbraak bied
# Die MK-party veroordeel Ramaphosa se staatsrede as voornemens, nie die werklikheid nie
# En die uitspraak oor die uitlewering van Moroadi Cholota word vandag verwag
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die Witskrif oor die Hersiening van Plaaslike Regering wat teen 31 Maart afgehandel sal wees, gaan die land se plaaslike regeringstelsel verander. Die hersiening bied geleentheid om sistemiese kwessies aan te spreek wat doeltreffende dienslewering op plaaslike regeringsvlak kniehalter. Hlabisa sê die Witskrif beklemtoon dat die ontplooiing van amptenare van bevoegdheid en professionalisme moet afhang, en nie van politiek nie:
# Die MK-party sê president Cyril Ramaphosa se onlangse staatsrede was ‘n verklaring van voorneme eerder as ‘n ware verslag oor regeringsprestasie. Des van Rooyen het tydens die debat oor die staatsrede gewaarsku groei bly swak ten spyte van lae inflasie. Hy beskuldig die regering van nasionale eenheid daarvan dat hulle partybelange beskerm in plaas daarvan om die land te bevorder:
# Die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein sal na verwagting vandag uitspraak lewer in die binneverhoor om te bepaal of Moroadi Cholota se uitlewering van Amerika in 2024 wettig was. Sy is aan Suid-Afrika uitgelewer in verband met die asbesskandaal van 255-miljoen-rand, wat aanklagte van bedrog, korrupsie, diefstal en afpersing insluit. Die Konstitusionele Hof het die saak na die hooggeregshof terugverwys nadat eersgenoemde bevind het Cholota se uitlewering was onregmatig. Vandag se uitspraak sal bepaal of die verhoor voortgaan en of die aanklagte teen Cholota laat vaar word.
# ‘n Groep van meer as 80 lidlande van die Verenigde Nasies, insluitend Suid-Afrika, veroordeel Israel se nuwe maatreëls in die Wesoewer. Die Israelse regering het die eerste keer sedert Tel Aviv die gebied in 1967 oorgeneem het, ʼn voorstel goedgekeur om groot dele van die Wesoewer as “staatseiendom” te registreer. Die Palestynse permanente waarnemer by die VN, Riyad Mansour, sê hulle verwerp alle maatreëls wat daarop gemik is om die demografiese samestelling, karakter en status van die Palestynse gebied te verander:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, het in sy eerste wedstryd by die Katar Ope in Doha ʼn welverdiende oorwinning oor die Fransman, Arthur Rinderknech, behaal. Dit was die Spanjaard se eerste deelname sedert hy by die Australiese Ope die jongste man geword het wat ʼn loopbaan-Grand Slam voltooi. Alcaraz kom nou teen nog ʼn Fransman, Valentin Royer, te staan nadat dié sy landgenoot Pierre-Hugues Herbert verslaan het. Die verdedigende kampioen van Rusland, Andrey Rublev, het met die Nederlander, Jesper de Jong, afgereken terwyl die Griek, Stefanos Tsitsipas, die promotorskeuse van Tunisië, Moez Echargui, geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-299-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-904-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….