Nuus 08:00
BULLETIN 16 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die komende maande sal Suid-Soedan se toekoms bepaal
# Amnestie Internasionaal Suid-Afrika sê die Madlanga-kommissie moet tot vervolging lei
# En die ANC in Gauteng sê hulle stoot nie die EFF uit hul regeringsverantwoordelikhede nie
# President Cyril Ramaphosa sê die keuses wat in die komende maande gemaak word, sal bepaal of Suid-Soedan na blywende vrede beweeg of terugkeer na onbestendigheid. Hy het gister die Afrika-Unie se Ad hoc-hoëvlakkomitee vir die Suid-Soedan C5 Plus-beraad in Addis Abeba, Ethiopië, toegespreek. Suid-Soedan, die wêreld se jongste nasie, gaan in Desember stembus toe. Ramaphosa sê die Afrika-Unie is verenig in sy optrede om die land na ‘n pad van vrede en bestendigheid te beweeg:
# Amnestie Internasionaal Suid-Afrika sê die getuienis voor die Madlanga-kommissie is kommerwekkend en dra by tot die ondermyning van vertroue in wetstoepassing. Die kommissie ondersoek bewerings van korrupsie, politieke inmenging en die infiltrasie van misdaadsindikate in die strafregstelsel. Amnestie Internasionaal sê die bewerings skep kommer oor die staat se vermoë om mense te beskerm en die oppergesag van die reg te handhaaf. Hy sê die kommissie moet lei tot vervolging en betekenisvolle hervorming, eerder as verdere vertragings en voortgesette korrupsie en wangedrag.
# Die ANC in Gauteng sê hy beraadslaag voortdurend met die EFF as sy deel van sy koalisie-ooreenkoms. Die EFF-leier Julius Malema het gedreig om sy party aan die vennootskap met die ANC in Gautengse metro’s te onttrek omdat die party volgens hom uitgebuit word. Die twee partye beheer Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni deur koalisie-ooreenkomste. Die ANC se provinsiale koördineerder, Hope Papo, sê hulle stoot nie die EFF uit hulle regeringsverantwoordelikhede nie:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, is op ‘n tweedaagse besoek om bande met Slowakye en Hongarye te versterk. Die lande se konserwatiewe leiers handhaaf reeds goeie verhoudings met president Donald Trump. Rubio sal tydens die besoek energiesamewerking en bilaterale kwessies bespreek, onder meer NAVO-bande met die twee lande, wat dikwels in konflik is met ander lande in die Europese Unie. Rubio dien ook as Trump se nasionale veiligheidsraadgewer en het Sondag die Slowaakse eerste minister Robert Fico ontmoet. Hy sal na verwagting vandag die Hongaarse leier Viktor Orban besoek.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner MJ Daffue het die NTT Data Pro-Am by die Fancourt-gholflandgoed in George in die Wes-Kaap gewen. Hy het drie onder baansyfer 69 aangeteken om 16 onder baansyfer vir die week te haal en vier houe voor ‘n gelykopuitslag vir die tweede plek te eindig. Die Suid-Afrikaner Bryce Easton, Zimbabwiër Kieran Vincent, Amerikaner Hunter Logan en Max Kennedy van Ierland is almal tweede op 12 onder baansyfer. Daffue sê hy moes geduldig wees, maar dit was uiteindelik tot sy voordeel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-370-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-996-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….