Nuus 08:00
BULLETIN 13 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa het bek-en-klouseer tot nasionale ramp verklaar
# John Steenhuisen sê die pad na voorspoed vir Suid-Afrika vereis vinniger hervormings
# En die VN sê meer as seweduisend kinders is in 2024 deur gewapende groepe misbruik
# President Cyril Ramaphosa het die uitbreking van bek-en-klouseer in die land as nasionale ramp verklaar en sê die grootvee-bedryf beleef een van die ergste uitbrekings ooit. Hy het gisteraand in sy staatsrede gesê die siekte benadeel die ekonomie, en lei tot ‘n verbod op uitvoere, tot handelsbeperkings en die verwoesting van kuddes. Hy sê die regering sal saam met die privaat sektor werk om doeltreffende inenting te verseker:
# Die minister van Landbou en DA-leier, John Steenhuisen, het die verklaring van bek-en-klouseer as ramptoestand verwelkom maar sê Suid-Afrika moet ekonomiese groei versnel om werkloosheid te verminder en lewenskoste te verlaag. Hy verwelkom talle ingrypings wat Cyril Ramaphosa in sy staatsrede aangekondig het, insluitend die herstel van aanspreeklikheid in staatsfinansies en dat bek-en-klouseer as ramptoestand verklaar is. Steenhuisen sê die toespraak sê egter te min oor optrede om munisipaliteite reg te ruk:
# In reaksie op die staatsrede sê die ANC president Cyril Ramaphosa het burgers se werklikhede aangespreek. Dit sluit werkloosheid, dienslewering en misdaad in. Die party sê die toespraak hou verband met beloftes in die 8 Januarie-verklaring en uitkomste van onlangse Kabinetsittings en die party se strategie-sessies. Die ANC se eerste adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, verwelkom die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag om die polisie te help in die stryd teen bendegeweld en onwettige mynbedrywighede in die Wes-Kaap en Gauteng:
# Die Verenigde Nasies sê die werwing en gebruik van kinders is steeds een van die mees uitgebreide en verwoestende oortredings in die wêreld. In 2024 alleen is meer as sewe-duisend-400 kinders deur gewapende magte en gewapende groepe gewerf of gebruik. Hierdie oortredings kom hoofsaaklik voor in die Demokratiese Republiek die Kongo, Nigerië, Somalië, Sirië en Mianmar. Die VN se spesiale verteenwoordiger vir kinders en gewapende konflik, Vanessa Frazier, sê geregtigheid en aanspreeklikheid is goeie afskrikmiddels wat gewapende groepe wys dat die werwing van kinders ware gevolge het.
# Rugby: Die Skotse senter Huw Jones sê sy span is gereed om beter te speel nadat hulle in vanjaar se eerste Sesnasies-naweek teen Italië verloor het. Die span verwelkom Engeland môre in die Skotse hoofstad Edinburgh. Engeland het hul laaste twee wedstryde teen Skotland op Murrayfield verloor, terwyl die Skotte in hul laaste agt kragmetings oor hul geswore vyand geseëvier het. Jones besef Engeland word as die gunstelinge beskou, nadat hulle die laaste 12 wedstryde gewen het, maar sê die span wil nou hul frustrasie op die besoekers uithaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-96-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-655-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-976-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….