Nuus 08:00
BULLETIN 9 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen waarsku teen die DA se verlating van die regering van nasionale eenheid
# Die Spesiale Ondersoekeenheid is vol vertroue dat die Tembisa-hospitaalsaak sal voortgaan
# En krieket: Die mede-gashere Sri Lanka en Engeland behaal vroeë oorwinnings in die T20-wêreldbeker
# Die uittredende DA-leier John Steenhuisen het gewaarsku dat enige toekomstige besluit om die regering van nasionale eenheid te verlaat, katastrofies kan wees. Hy het verlede week aangekondig dat hy nie vir ‘n derde termyn by die party se verkiesingskongres in April sal staan nie. Kritici sê sommige van die kandidate wat die leierspos kan oorneem, is teen die koalisie-ooreenkoms. Steenhuisen het sy besluit om by die RNE aan te sluit in City Press verdedig en gesê dit was die regte ding vir die DA om te doen:
# Die Nkabinde-ondersoek na die geskorste Suid-Gautengse direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, se bevoegdheid vir sy amp hervat vandag. President Cyril Ramaphosa het Chauke verlede Julie geskors nadat die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, by hom gekla het oor talle sake wat Chauke na bewering versuim het om te vervolg. Die ondersoek se woordvoerder, Tiyisela Mpuzana, sê getuienisleiers sal ‘n aansoek indien dat die openbare verhore met ʼn week uitgestel word om voor te berei vir toekomstige getuies:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid sê die Spesiale Tribunaal se opdrag dat luukse voertuie wat glo aan die korrupsie-beskuldigde sakeman Hangwani Maumela behoort teruggegee word, benadeel nie sy saak nie. Maumela is uitgewys as ʼn leier van een van die sindikate wat meer as twee-miljard-rand by die Tembisa-hospitaal gesteel het. Die diefstal is deur die vermoorde fluitjieblaser, Babita Deokaran, ontbloot. Die Spesiale Ondersoekeenheid se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê daar is by Omar’s Motor Den, ʼn handelaar in Witbank, Mpumalanga, wat met Maumela verbind word, op die voertuie beslag gelê:
# Japan se eerste minister, Sanae Takaichi met die bynaam “Ystervrou”, het haar regerende Liberaal Demokratiese Party na ʼn wegholoorwinning gelei. Sy het die blitsverkiesing aangevra om ʼn mandaat te verseker nadat wetgewers haar verlede Oktober as die land se eerste vroulike eerste minister verkies het. Takaichi se party het meer as 316 van die 465 setels in Japan se sterker laerhuis gewen en het dus ʼn tweederde-meerderheid. Saam met sy koalisievennoot, die Japan Innovasieparty, het die blok 352 setels.
# Krieket: Die T20-wêreldbeker se medegasheer, Sri Lanka, het sy veldtog op ʼn hoë noot afgeskop en Ierland in die Groep B-openingswedstryd in Colombo met 20 lopies verslaan. Sri Lanka het eerste gekolf en 163 vir ses behaal. Die speler van die wedstryd, Kusal Mendis, spog met ʼn onoorwonne 56 van 43 balle. Daarna is Ierland op 143 uitgeboul met een bal oor. In Mumbai het die tweemalige kampioene van Engeland ʼn naelskraapse oorwinning oor Nepal behaal en hulle met vier lopies in Groep C se openingswedstryd geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-695-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-18-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….