Nuus 08:00
BULLETIN 26 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU is nie verbaas oor die onveranderde terugkoopkoers nie
# Die Gautengse LUR vir Onderwys veroordeel politieke partye wat tydens skooltyd veldtogte voer
# En, Donald Trump is in die getuiebank in die E Jean Carroll lastersaak
# Die Suid-Afrikaanse vakbondfederasie, SAFTU, sê hy is nie verbaas oor die Reserwebank se monetêre beleidskomitee se besluit om die terugkoopkoers onveranderd op 8,25-persent te hou nie. Dis die vierde keer sedert Mei verlede jaar dat dit onveranderd bly. SAFTU se woordvoerder, Trevor Shaku, sê die besluit is geneem omdat die komitee dié wat in geld handel dryf wil aanmoedig om nie groot hoeveelhede rande te verkoop en sodoende die waarde van die geldeenheid verlaag nie:
# Die ANC-parlementslid Dipuo Peters het ‘n dringende aansoek by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien om haar skorsing uit die Parlement ongedaan te maak. Die skorsing hou verband met staatskapings-bewerings tydens haar tydperk as minister van Vervoer. Die verhore begin vandag, terwyl Peters beplan om Dinsdag die instelling van maatreëls teen haar uit te daag. Sy vra ‘n regshersiening van die Parlement se besluit en betoog die stappe teen haar belemmer haar politieke vermoë en vooruitsigte.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het politieke partye veroordeel wat openbare skole in skooltyd besoek. Dit volg nadat ‘n politieke party waarvan die naam nie bekend gemaak is nie, gister skole in Eldoradopark besoek het terwyl leer en onderrig aan die gang was. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die LUR het beklemtoon politiek moet uit die onderrig-omgewing bly om ʼn gefokusde en onbevooroordeelde leeratmosfeer te verseker:
# Amerika se oudpresident Donald Trump het in die getuiebank verskyn in E Jean Carroll se tweede lastersaak teen hom, maar hy ontken die bewerings. Hy is verlede jaar skuldig bevind dat hy die rubriekskrywer in die 1990’s seksueel aangerand het. Trump se verskyning het minder as vyf minute geduur omdat regter Lewis Kaplan die vrae aan Trump beperk het aangesien hy reeds aanspreeklik bevind is. Trump het ook ontken dat hy enige iemand opdrag gegee het om Carroll seer te maak. Die slotvertoë word vandag gelewer.
# Gholf: Willie Olivier en Oliver Bekker loop gesamentlik met een hou voor na die openingsronde van die Mediclinic-uitnodigingstoernooi by die Maccauvlei-gholfklub in Vereeniging, Gauteng. Die twee het weggespring met rondes van sewe onder baansyfer 65. Die 25-jarige Olivier, wat sy stempel in die Sonskyntoer wil afdruk, was tevrede met sy eerste ronde:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-en-44-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-21-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….