Nuus 08:00
BULLETIN 6 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suliman Carrim word gewaarsku oor die gevolge indien hy nie voor die Madlanga-kommissie verskyn nie
# Die Britse premier vra om verskoning aan Jeffrey Epstein se slagoffers
# En rugby: Frankryk begin sy Sesnasies-titelverdediging met ‘n bonuspunt-oorwinning teen Ierland
# Die Madlanga Kommissie sê hy verwag die sakeman Suliman Carrim om vandag voor hom te verskyn. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Johannesburg sy dringende aansoek van ‘n interdik teen die kommissie om hom te dagvaar om te verskyn, verwerp het. Getuienis wat by die kommissie voorgelê is voer aan die ANC-ondersteuner Carrim het sy politieke invloed gebruik om ‘n Suid-Afrikaanse Polisie-kontrak van 360-miljoen-rand in die guns van die beweerde misdaadbaas Vusimuzi “Cat” Matlala te beklink. Die woordvoerder van die kommissie, Jeremy Michaels, sê daar sal gevolge wees indien Carrim nie opdaag nie:
# Business Leadership South Africa sê die land se hervormingsprogram vorder, maar terugslae in die elektrisiteitsektor is kommerwekkend. Sy jongste hervormingsnaspoorder toon dat algehele vordering sedert Maart 2024 met byna 24-persent gestyg het, met vooruitgang op gebiede soos vervoer, visums, infrastruktuur, water en strafreg. Eskom se hersiene ontbondelingsplan kan egter die elektrisiteitsnetwerk en hernubare energieprojekte vertraag. Die uitvoerende hoof van die organisasie, Busisiwe Mavuso, vra vir dringende optrede om elektrisiteitshervormings weer op koers te kry.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, oorhandig vandag in Kaapstad die opgeknapte Nieuwmeester-koepel amptelik aan die Nasionale Vergadering se speaker, Thoko Didiza. Die Koepel sal as tydelike lokaal vir parlementêre aktiwiteite dien tot die Parlement se restourasie afgehandel is. Dis in aanloop tot president Cyril Ramaphosa se staatsrede komende Donderdag. Die bouwerk sal na verwagting meer as 31,7-miljoen-rand kos. Minister Macpherson sê die struktuur is nou toegerus om die werksaamhede van die Parlement te ondersteun.
# Die Britse eerste minister Keir Starmer het die veroordeelde pedofiel, Jeffrey Epstein, se slagoffers verskoning gevra omdat hy Peter Mandelson as die Verenigde Koninkryk se ambassadeur in Amerika aangestel het. Mandelson het sensitiewe interne staatsinligting met Epstein gedeel terwyl hy in Gordon Brown se regering gedien het. Downingstraat erken Starmer was bewus van Mandelson se bande met Epstein toe sy aanstelling vroeg verlede jaar bekragtig is. Starmer sê hy sal aanspreeklikheid verseker:
# Rugby: Frankryk het hul Sesnasies-titel verdedig met ‘n bonuspuntoorwinning van 36-14 teen Ierland in Parys. Hulle het vyf drieë gedruk. Die voorste 2025-puntemaker, Louis Bielle-Biarrey, het twee gedruk terwyl Matthieu Jalibert, Charles Ollivon en Theo Attissogbe elkeen een bygedra het. Thomas Ramos het vier verdoel en met ʼn strafskop geslaag. Die plaasvervangers, Nick Timoney en Michael Milne, het Ierland se drieë bygedra en Sam Prendergast het albei verdoel. Frankryk se verdedigingsafrigter, Shaun Edwards, sê hulle verdien die sege:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-660-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-820-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….