Nuus 08:00
BULLETIN 5 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus waarsku drakoniese arbeidswette benadeel die ekonomie
# Minister Mantashe sê onwettige mynbou kos die ekonomie miljarde in verlore inkomste
# En die man wat ’n sluipmoord op Donald Trump beplan het, is tot lewenslange tronkstraf gevonnis
# Die Vryheidsfront Plus sê die regering se minimumloonbeleid ontbloot diepgaande ongelykhede, met werkers van die Uitgebreide Openbare Werkeprogram wat byna die helfte verdien wat werknemers in die privaat sektor ontvang. Die party waarsku dat die onlangse verhoging van 28-rand-79-sent tot 30-rand-23-sent per uur tot werksverliese kan lei, veral vir kwesbare groepe soos huiswerkers, plaaswerkers en tuiniers. Heloïse Denner van die VF Plus voer aan onbuigsame arbeidswette en oorregulering beskadig die ekonomie:
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, waarsku onwettige mynbedrywighede is een van die grootste probleme in Suid-Afrika se mynbousektor. Die onwettige bedrywighede kos die mynbedryf jaarliks sowat 20-miljard-rand. Mantashe sê die regering het ‘n strategie aanvaar wat onder meer die rehabilitasie van verlate myne en dié sonder eienaars insluit. Deur Operasie Vala uMgodi slaan hulle ook toe op onwettige mynbedrywighede. Hy sê hierdie bedrywighede was voorheen beperk tot verlate myne dié sonder eienaars, maar dit raak al hoe meer gelisensieerde en werkende myne.
# Die families van drie van die mynwerkers wat ondergronds vasgekeer is toe die Lily-myn in 2016 ingestort het, het in Mbombela, Mpumalanga, ʼn klag by die Menseregtekommissie ingedien. Pretty Nkambule, Solomon Nyirenda en Yvonne Mnisi was in ʼn vraghouer-kantoor toe die myn ingetuimel het. ʼn Woordvoerder, Harry Mazibuko, sê die Nasionale Vervolgingsgesag en die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie het versuim om behoorlik op te tree na die uitslag van ʼn ondersoek ʼn paar jaar gelede:
# Ryan Routh is tot lewenslange tronkstraf plus sewe jaar gevonnis vir sy sluipmoordpoging in 2024 op destydse presidentskandidaat Donald Trump in Florida. Die 59-jarige Routh het met ʼn semi-outomatiese geweer in die bosse by die Trump Internasionale Gholfklub in West Palm Beach geskuil terwyl Trump gholf gespeel het. Geheime Diens-agente het hom opgemerk, skote afgevuur en hom gearresteer. Routh is op vyf aanklagte skuldig bevind, onder meer poging tot ʼn sluipmoord. Sy prokureur, Martin Roth, sê hulle gaan appelleer:
# Sokker: Stellenbosch FC het die verdedigende kampioene Kaizer Chiefs met 2-1 In die Kaapstad Stadion verslaan en so na die laaste 16 van die Nedbank-beker deurgedring. Ibraheem Jabaar het die eerste doel aangeteken voordat Devin Titus Stellenbosch se telling verdubbel het. Flavio da Silva van Chiefs het met een doel teruggeslaan, maar dit was nie genoeg vir Amakhosi nie. In Pretoria het Mamelodi Sundowns vir Gomora United met 2-1 getroef. Die wenner van die Nedbank-beker sal sewe-miljoen-rand wen en die naaswenner 2,5-miljoen-rand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-444-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-875-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….