Nuus 08:00
BULLETIN 2 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie verduidelik die beslaglegging op die hoof van die KwaZulu-Natal Valke se staatseiendom
# Malema vra vir groot verkiesingshervormings om die land se demokrasie te versterk
# En nuwe wetgewing kan klein partye keer om metro’s te bestuur
# KwaZulu-Natalse polisie het die beslaglegging op die provinsiale Valke-hoof, Lesetja Senona, se staatseiendom verdedig en sê daar bestaan kommer oor sekuriteit. Hy beweer hy is Saterdag uit sy kantoor in Durban geskop en daar is op sy toerusting beslag gelê. Senona is een van vyf polisiebeamptes wat verlede week in die Madlanga-kommissie se voorlopige verslag genoem is. ‘n Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê Senona se optrede ná Saterdag se klopjag wek kommer oor sekuriteit:
# Die EFF-leier, Julius Malema, sê die huidige verkiesingstelsel is finansieel onvolhoubaar en verhinder politieke partye om op dienslewering te fokus. Malema het met die afsluiting van die EFF se vergadering aan die Gautengse Oos-Rand Sondag voorgestel dat jongmense outomaties as kiesers geregistreer word wanneer hulle 18 word. Malema sê verkiesings en tussenverkiesings het ‘n onbekostigbare finansiële las op politieke partye geplaas, wat tot gevolg het dat hulle veldtogte bó staatsbestuur priotiseer:
# Die regering beplan om ‘n verkiesingsdrempel in te stel wat klein partye kan verhinder om setels in stadsrade te verseker. City Press berig dit kan hulle moontlik verhoed om ná vanjaar se munisipale verkiesing ‘n beslissende invloed te hê of vooraanstaande metropolitaanse munisipaliteite te lei. Die voorgestelde veranderings het ten doel om plaaslike regering te bestendig deur die invloed van klein partye met min kiesersteun te beperk. Kritici voer aan die stap kan kleiner stemme uitsluit, terwyl voorstaanders sê dit sal verdeelde rade verminder en bestuur verbeter.
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky veroordeel ʼn Russiese hommeltuigaanval op ʼn bus vol mynwerkers in die sentraal-oostelike Dnipropetrovsk-streek. Twaalf mynwerkers is dood en minstens 15 beseer in die aanval op die bus wat werkers ná ʼn skof huis toe vervoer het. ʼn Hommeltuig het ook ʼn kraaminrigting in die suidelike Zaporizhzhia-streek getref en minstens sewe mense is beseer. Zelensky sê Rusland het ten spyte van vredesonderhandelinge die afgelope week meer as 980 hommeltuigaanvalle uitgevoer, en byna een-duisend-100 bomme en twee missiele op Oekraïne afgevuur.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner MJ Viljoen het ʼn dramatiese uitspeel-oorwinning behaal in die SDC Ope by die Zebula Gholflandgoed en Spa in Limpopo. Die 30-jarige speler het ʼn voëltjie op 72ste putjie behaal. In die uitspeelstryd teen landgenoot Deon Germishuys het Viljoen op die eerste ekstra putjie ʼn voëltjie behaal om sy vierde Sonskyntoer-titel op te raap. Die Suid-Afrikaner Jean Hugo en Maxence Giboudot van Frankryk deel die derde plek op 14 onder. Viljoen sê hy is opgewonde oor sy prestasie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-263-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-719-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….