Nuus 08:00
BULLETIN 30 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel ‘n nuwe datum vas vir die voltooiing van die Nkabinde-ondersoek
# Iran se Rewolusionêre Wag word deur die EU tot terroriste-organisasie verklaar
# En krieket: Quinton de Kock lei die Proteas na ‘n T20-reeksoorwinning oor die Wes-Indiese Eilande
# President Cyril Ramaphosa het die Nkabinde-ondersoek wat die bevoegdheid van die geskorste Suid-Gautengse direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, ondersoek se sperdatum uitgestel. Dit sal die ondersoekspan tyd gee om vertragings te hanteer wat deur afwesigheid van getuies en onvoltooide getuienisse veroorsaak is. Die hoofklaer, die uittredende hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, is die enigste persoon wat tot dusver getuig het. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president het die ondersoek in September 2025 begin:
# Die ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het ‘n nasionale optog aangekondig om Suid-Afrika se Grondwet en die land se soewereiniteit te beskerm. Duisende mense sal vir die optog op 21 Maart by Beyers Naudé-park naby Luthuli-huis bymekaarkom kom en tot by Grondwetheuwel in Braamfontein beweeg, met optogte wat terselfdertyd regoor die land sal plaasvind. Mbalula het aan die media gesê die optog is daarop gemik om demokratiese waardes te beskerm, grondwetlike orde te versterk en enige optrede wat die gesag van die staat ondermyn, teen te staan:
# Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, sê die metro raak na ‘n paar moeilike jare meer bestendig. Die kantoor van die ouditeur-generaal het Tswane vir die derde agtereenvolgende jaar ‘n gekwalifiseerde oudit gegee vir die 2024/2025 boekjaar. Die ouditeur-generaal het kommer uitgespreek oor interne beheer en gevolgbestuur in die metro. Tswane se bates het met sowat 2,3-miljoen-rand gestyg en likiditeit het verbeter. Moya het beklemtoon uitdagings bestaan nog met die insameling van belasting en om bestaande ouditprobleme reg te stel.
# Die Europese Unie het Iran se Rewolusionêre Wag tot terroristegroep verklaar na die dodelike aanslag op landwye betogings. Minstens ses-duisend mense is die maand dood tydens betogings teen die regering. Die EU het ook nuwe sanksies ingestel teen ses entiteite en 15 individue in Iran. Die EU-hoof van buitelandse beleid, Kaja Kallas, sê die Rewolusionêre Wag is nou op dieselfde vlak as groepe soos Al-Kaïda, Hamas en die Islamitiese Staat-groep:
# Krieket: Quinton de Kock het geskitter met die kolf toe Suid-Afrika die Wes-Indies in Centurion met sewe paaltjies verpletter het. Die Proteas is 2-0 voor in die T20-reeks van drie wedstryde. Shimron Hetmyer het 75 bygedra en die besoekers het 221 vir vier op die telbord geplaas. Daarna het De Kock, in sy eerste T20 tuis in byna drie jaar, 115 aangeteken en ‘n tweedepaaltjie-vennootskap van 162 met Ryan Rickelton gedeel. Die Proteas het gewen met 15 balle oor. Die derde en laaste wedstryd is môre op die Wanderers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-82-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-144-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-184-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….