Nuus 08:00
BULLETIN 20 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa sê Suid-Afrika gaan voort met sy kernprogram
# Die verhoor van die 62 beweerde aanhitsers tydens die betogings van 2021 begin vandag
# En motorsport: Kimi Antonelli vergroot sy kampioenskapsvoorsprong na ‘n oorwinning in die Belgiese Grand Prix
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê die regering gaan voort met planne om Suid-Afrika se kernenergie-program uit te brei. Dit is ten spyte van kommer oor veiligheid by Koeberg in Kaapstad, die land se enigste kernkragsentrale, waar drie voorvalle van radioaktiewe besmetting die afgelope weke voorgekom het. Ramokgopa sê die uitbreiding is deel van die Geïntegreerde Hulpbron-program om afhanklikheid van steenkool te verminder, die land se energie-mengsel te diversifiseer en die kernbedryf uit te brei. Die instelling daarvan word tot 2039 beplan:
# Die verhoor van 62 vermeende aanhitsers van die Julie 2021-onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng begin vandag in die Durban Hooggeregshof. Altesaam 354 mense is tydens die protesoptrede vyf jaar gelede dood. Vyf-en-sestig mense is aanvanklik aangekla, maar drie is sedertdien dood. Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van terrorisme, aanhitsing tot openbare geweld en sameswering tot moord. Hulle het die betogings teen voormalige president Jacob Zuma se 15-maande tronkstraf op WhatsApp-groepe georganiseer. Die saak is vir twee weke op die rol geplaas met meer as 100 getuies wat sal verskyn.
Die waarnemende Wes-Kaapse provinsiale polisiekommissaris, Luyanda Damoyi, het die sinnelose geweld wat oor die naweek die lewens van vier mense in afsonderlike skietvoorvalle in Asanda Village, Lwandle, geëis het, sterk veroordeel. Polisiewoordvoerder, André Traut, sê tussen drie en vier gewapende verdagtes het na bewering op die slagoffers losgebrand na kort woordewisselings voordat hulle van die tonele gevlug het. Hy sê die verlies aan lewens onder hierdie omstandighede wek kommer:
# Die Amerikaanse weermag het Sondagaand die negende agtereenvolgende nag aanvalle op Iran uitgevoer. Dit volg nadat ‘n Amerikaanse soldaat Saterdag in die noorde van Irak dood is, en twee ander Vrydag gesterf het tydens aanvalle in Jordanië. Amerika se Sentrale Bevel sê die aanvalle sal voortgaan om Iran se militêre vermoë te vernietig. President Donald Trump sê hy is jammer oor die Amerikaanse weermaglede wat in die oorlog teen Teheran omgekom het. Tot dusver is 17 Amerikaanse soldate in die oorlog dood:
# Motorsport: Die Mercedes-renjaer Kimi Antonelli het sy sesde oorwinning van die seisoen behaal toe hy gister die Belgiese Grand Prix ingepalm het. Die 19-jarige Italianer moes terugveg en Charles Leclerc van Ferrari verbysteek nadat hy onder ‘n virtuele veiligheidsmotor sy plek verloor het. Hy is nou die eerste renjaer in vyf jaar om uit die voorste wegspringplek by Spa-Francorchamps te wen. Max Verstappen van Red Bull was derde. Antonelli is in die kampioenskapstitelwedloop nou 45 punte voor Lewis Hamilton van Ferrari en 50 voor sy spanmaat George Russell, wat na ‘n botsing in die eerste rondte moes tou opgooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-632-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-23-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….