Nuus 08:00
BULLETIN 25 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Internasionale Geregshof bevestig hy sal Vrydag uitspraak lewer in Suid-Afrika se saak teen Israel
# Kommer neem toe nadat president Cyril Ramaphosa aandui die wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering bly onveranderd
# En krieket, die Paarl Royals is stewig bo aan die SA20-punteleer
# Die Internasionale Geregshof het bevestig hy maak môre bekend of hy noodmaatreëls teen Israel gaan instel ná Suid-Afrika se bewerings dat Israel volksmoord pleeg in Gaza. Suid-Afrika vra ‘n dringende bevel dat Israel se militêre veldtog in Gaza onmiddellik opgeskort word. Die hof sal waarskynlik heelwat langer neem om ʼn finale uitspraak te lewer of Israel die 1948-volksmoordkonvensie oortree het. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, sal teenwoordig wees wanneer die uitspraak twee namiddag Suid-Afrikaanse tyd in Den Haag gelewer word.
# Privaat gesondheidsorg is in onsekerheid gedompel aangesien president Cyril Ramaphosa die naderende inwerkingtreding van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering sonder veranderings aandui. Die Health Funders Association waarsku die huidige weergawe van die wetsontwerp sal die gesondheidsorgdinamika aansienlik verander, keuses sal beperk word en burgers sal aan ‘n staatstelsel verbind wees. Die voorsitter, Craig Comrie, glo onder die NGV verloor individue die reg om privaat te betaal vir gedekte dienste, wat lei tot lang waglyste en verminderde toegang tot gesondheidsorg. Hy vra die verkenning van alternatiewe modelle.
# Die eThekwini-munisipaliteit in KwaZulu-Natal sê gure weer tussen die 13de en 16de van hierdie maand het tot swaar reënneerslae gelei en skade veroorsaak wat 1,4-miljard-rand gaan kos om te herstel. Die munisipaliteit het by ʼn vergadering van die uitvoerende komitee ʼn omvattende verslag ter tafel gelê. Daarin word ʼn oorsig verskaf van die skade, die beraamde herstelkoste, reaksie-maatreëls en interdepartementele ingryping. Die munisipaliteit se stadsbestuurder, Musa Mbhele, sê nege sterftes is aangemeld, altesaam 341 woonplekke is beskadig en een-duisend-413 individue word geraak:
# Krieket: Die Paarl Royals het die Joburg Super Kings op die Wanderers met vyf paaltjies verslaan om hulle plek bo aan die SA20-punteleer te behou. Reeza Hendricks se onoorwonne 79 het gehelp om die tuisspan in hulle 20 boulbeurte tot 168 vir drie te lei. Wihan Lubbe en Dane Vilas se vierdepaaltjie-vennootskap van 95 het egter die besoekers se oorwinning verseker. Die Royals is sterk aanspraakmakers op ʼn plek in die uitspeelronde. Lubbe sê die span se vertoning in die afgelope paar wedstryde was goed:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-27-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-15-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-27-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, ken vandag beurse toe aan 100 leerders van die 2023-matriekklas wat by universiteite reg oor die land ingeskryf het vir kursusse oor verskillende bou-omgewings. Die beurse is deel van die departement se Vaardigheidspyplyn-program wat daarop gemik is om die aantal professionele persone uit voorheen benadeelde gemeenskappe in die bou-omgewing te vermeerder en die sektor te hervorm. Die program het sedert sy stigting meer as 500 studente bevoordeel met ʼn belegging van meer as 160-miljoen-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………