Nuus 08:00
BULLETIN 20 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IMF voorspel 1.4-persent groei vir Suid-Afrika in 2026
# Die dodetal in die Vanderbijlpark-ongeluk styg tot 14
# En Denemarke sê Trump kan nie dreig om eienaarskap van Groenland te kry nie
Die Internasionale Monetêre Fonds beraam dat Suid-Afrika se ekonomie vanjaar met 1,4-persent kan groei, wat ‘n geringe opwaartse hersiening is van vorige vooruitskattings van 1,2-persent, met ‘n berperkte styging tot 1,5-persent in 2027. Die vooruitsig plaas die land in ‘n swakker posisie as ontluikende markte. Die IMF sê in sy jongste Wêreld-ekonomiese Vooruitsig Suid-Afrika se trae ekonomiese herstel bly kwesbaar vir wêreldwye opskuddings, beleidsonsekerheid en langdurige strukturele beperkings. Die IMF verwag die wêreldekonomie sal vanjaar met 3,3-persent groei.
# Die Departement van Hoë Onderwys en Opleiding sê die Central Application Clearing House sal nie in die 2026 akademiese jaar vir die Klas van 2025, en verder ingestel word nie. Die Central Application Clearing House is in 2013 bekendgestel om matrikulante en voornemende studente te ondersteun wat nie kon plek kry by instellings vir naskoolse onderwys en opleiding nie. Die ministerie se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê die besluit is deel van groter hervorming in die naskoolse aansoekproses:
# Die dodetal na gisteroggend se botsing in Vanderbijlpark, Gauteng, tussen ‘n minibus wat leerders vervoer het en ʼn vragmotor, het tot 14 gestyg. Die polisie sê die bestuurder van die privaat minibus het blykbaar beheer verloor terwyl hy ander voertuie verbygesteek het. ʼn Saak van strafbare manslag is aanhangig gemaak. Gauteng se premier Panyaza Lesufi sê die groeiende privaat vervoersektor het dringend strenger regulasies nodig:
# Die Deense minister van Buitelandse Sake, Lars Løkke Rasmussen, sê president Donald Trump van Amerika kan nie eienaarskap van Groenland deur dreigemente afdwing nie. Trump sê hy gaan sy dreigement uitvoer om tariewe te hef op Europese lande wat sy voorneme teenstaan om beheer te neem oor die semi-outonome Deense gebied. Europese bondgenote ondersteun Groenland se soewereiniteit. Rasmussen beklemtoon die behoefte aan opbouende gesprekke met Amerika en noue Europese samewerking:
# Krieket: Die Joburg Super Kings het op Bolandpark ʼn bonuspunt-oorwinning van 44 lopies oor die Paarl Royals behaal en die laaste plek in die SA20-uitspeelronde beklink. Leus du Plooy, wat op die nippertjie die beseerde Faf du Plessis vervang het, het ʼn onoorwonne 54 van 27 balle behaal en die Super Kings het 166 vir vyf in hul 20 boulbeurte aangeteken. Daarna het Prenelan Subrayen drie paaltjies platgetrek en die Royals was op 122 almal uit. Die kompetisie se uitspeelwedstryde begin môre.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-404-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-672-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….