Nuus 08:00
BULLETIN 16 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die WVK-ondersoek hoor vandag mondelinge betoë aan deur Jacob Zuma en Thabo Mbeki se prokureurs oor regter Sisi Khampepe se onttrekking
# Gauteng Onderwys verwerp bewerings dat buitelanders voorkeur kry bo Suid-Afrikaanse leerders
# En, Amerika kondig sanksies aan teen 18 Iranse individue en entiteite oor die dodelike optrede teen betogers
# Die ondersoek na sake uit die Waarheid-en-versoeningskommissie hoor vandag mondelinge betoë aan van oudpresidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki se prokureurs oor waarom die voorsitter, afgetrede regter Sisi Khampepe, haar moet onttrek. Die kommissie ondersoek bewerings van inmengery in die vervolging van misdade uit die apartheid-era. Zuma en Mbeki se aansoeke handel oor vermeende botsende belange wat verband hou met Khampepe se vorige rolle in die WVK en Nasionale Vervolgingsgesag. Hulle sê hul beswaar teen Khampepe is om ‘n regverdige en onpartydige proses te verseker.
# Die vakbond Solidariteit sê hulle verset teen die Wet op die Nasionale Gesondheidsversekering duur voort en waarsku die beleid kan lewens in gevaar stel. Die vakbond doen ‘n beroep op ‘n volhoubare alternatief en het sy eie Wetsontwerp op die Hervorming van Gesondheidsorgfinansiering by die parlement ingedien. Hy voer aan dat geen weergawe van die NGV aanvaarbaar is nie. Theuns du Buisson van Solidariteit sê die huidige NGV-voorstel sal pasiënte en dokters se keuses verwyder, druk op die openbare gesondheidstelsel plaas en toegang tot gehaltesorg in gedrang bring:
# Die Gautengse Onderwysdepartement ontken bewerings dat hy by staatskole voorkeur gee aan die plasing van buitelandse burgers bo Suid-Afrikaanse leerders, en beskryf die bewerings as misleidend en ongegrond. Twee-duisend-763 graad 1- en 8-leerders in die provinsie moet nog plek kry by skole. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê geen riglyne gee skole opdrag om voorkeur aan buitelandse burgers te gee nie:
# Die Amerikaanse departement van Finansies het sanksies aangekondig teen verskeie Iranse amptenare wat verantwoordelik is vir die land se dodelike optrede teen anti-regering betogers. Onder hulle is die land se nasionale hoof van veiligheid, Ali Larijani. Die minister van Finansies, Scott Bessent, sê die sanksies is gerig op 18 individue en entiteite wat die regime gebruik om sanksies teen Iranse olie te ontduik en die opbrengs uit energieverkope weg hou van die Iranse bevolking as die regmatige eienaars:
# Krieket: Danksy Ottneil Baartman se meesterlike boulwerk het die Paarl Royals die SA20-uitspeelronde bereik ná ʼn bonuspunt-oorwinning van ses paaltjies teen die Pretoria Capitals in Centurion. Baartman het vyf paaltjies platgetrek en die Capitals was op 127 almal uit. Die 32-jarige Baartman is die tweede bouler in die kompetisie se geskiedenis wat ʼn driekuns behaal nadat Pretoria Capitals se naatbouler, Lungi Ngidi, dit verlede week ook reggekry het. Rubin Hermann het daarna 46 aangeteken en die Royals het die teiken gemaklik bereik met ses paaltjies staande, en vier boulbeurte en een bal oor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-466-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-597-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….