Nuus 08:00
Bulletin Inhoud
BULLETIN 15 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson sê Tebogo Malaka se bedanking vrywaar haar nie van aanspreeklikheid nie
# Saai kritiseer die minister van Landbou se reaksieplan vir bek-en-klouseer
# En Denemarke se minister van Buitelandse Sake sê daar is ‘rooi lyne’ wat die VSA nie mag oorsteek nie
# Die minister van Openbare Werke in Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die bedanking van die beleërde uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka, verwelkom. Sy is in Augustus verlede jaar voorlopig geskors na ‘n ondersoek na onreëlmatighede in die trust se suurstofaanleg-tender van 836-miljoen-rand aan die lig gebring het. Malaka is ook op kamera betrap waar sy na bewering probeer het om ‘n joernalis van Daily Maveric, Pieter-Louis Myburgh, om te koop. Macpherson sê die trust het onderneem om ten volle met alle voortgesette ondersoeke saam te werk:
# Saai sê die minister van Landbou, John Steenhuisen, se bek-en-klouseerplan bied boere nie die duidelike oplossings wat hulle benodig nie. Saai verwelkom die entstofinvoere uit Brasilië en Turkye, maar glo Suid-Afrika benodig dringend meer entstowwe en hulp van privaat vervaardigers. Francois Rossouw van die organisasie waarsku oor die gebrek aan ondersteuning vir loslopende en kommunale beeste, wetstoepassing en kommunikasie met boere. Rossouw doen ‘n beroep vir finansiële hulp, duidelike logistiek en beter uitbrekingsmonitering.
# Die IVP-leier, Velenkosini Hlabisa, sê die regering van provinsiale eenheid in KwaZulu-Natal kan nie bekostig om ineen te stort nie en waarsku teen moontlike politieke onbestendigheid. Dit volg nadat die National Freedom Party, wat as ‘n koningmaker beskryf word, aan die provinsie se veelpartykoalisie onttrek, en aangedui het hy gaan by die opposisie aansluit. Hlabisa sê sy party sal aanhou beraadslaag met sy vennote in KZN se regering van provinsiale eenheid, asook die EFF, indien hy en die NFP nie tot ʼn vergelyk kom nie.
# Denemarke se minister van Buitelandse Sake, Lars Lokke Rasmussen, sê daar is steeds ʼn fundamentele meningsverskil met Amerika oor Groenland. Dit volg na gister se samesprekings in die Withuis met Amerika se visepresident, JD Vance, en minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio. Die vergadering volg nadat president Donald Trump gesê het Amerika moet Groenland beheer. Rasmussen sê hulle het ooreengekom op ʼn hoëvlak-werksgroep om Groenland se toekoms te bespreek:
# Krieket: Die Sunrisers Eastern Cape het op St Georgespark ʼn oortuigende oorwinning van 61 lopies oor die Joburg Super Kings behaal om hul plek in die SA20-uitspeelronde te verseker. Sunrisers se nuweling, James Coles, het ʼn onoorwonne 61 bygedra tot sy span se telling van 178 vir vyf in hul 20 boulbeurte. Daarna het Senuran Muthusamy drie paaltjies platgetrek en die besoekers was op 117 almal uit. Muthusamy sê hulle vertoon tot dusver goed:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-302-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-595-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….