Nuus 08:00
BULLETIN 12 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nomvula Mokonyane sê die ANC is vasbeslote om plaaslike regering reg te ruk
# Die soektog na ‘n tiener wat vermis geraak het tydens ‘n Vaalrivier-bootvaart gaan Voort
# En Donald Trump is vol vertroue dat die VSA Groenland sal besit
# Die ANC se eerste adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, sê 2026 is ‘n jaar van bepalende optrede om plaaslike regering reg te ruk en die ekonomie te hervorm. Die beleërde plaaslike regeringsektor word geteister deur wanpraktyke en fiskale probleme waar miljarde rand jaarliks vermors word op vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes wat dienslewering belemmer. Mokonyane het aan Newzroom Afrika gesê die ANC wil sy strategiese doelwitte in plaaslike regering instel:
# Die Parlement begin hierdie week sy 2026-program met ‘n volle sitting deur die twee Huise om Geldwetsontwerpe te oorweeg, terwyl die Ad Hoc-komitee wat bewerings deur Luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi ondersoek, ook sy verhore sal hervat. Parlementêre woordvoerder Moloto Mothapo sê Dinsdag sal die Nasionale Vergadering die Spesiale Begrotingswetsontwerp, die Aanpassingsbegrotingswetsontwerp, die Wysigingswetsontwerp op Belastingadministrasiewette en die Wysigingswetsontwerp op Belastingwette oorweeg:
# Lede van die soek- en reddingseenheid van die polisie se Watervleuel gaan vandag die soektog na ‘n 17-jarige seun hervat wat Vrydag tydens ‘n bootvaart op die Vaalrivier oorboord geval het. Thomas Junior Sithole van die Driehoek Hoërskool in Vanderbijlpark was saam met vriende op die bootvaart toe hy naby die Stonehaven-oord verdwyn het. Die vriende het Sithole se familie skynbaar nie onmiddellik oor sy verdwyning ingelig nie en dit nie by die polisie aangemeld nie. Die polisie het een persoon vir ondervraging ingeneem, maar niemand is sover in hegtenis geneem nie.
# President Donald Trump sê hy is vol vertroue dat Amerika Groenland sal bekom. Denemarke en Groenland sê die gebied is nie te koop nie, en Denemarke waarsku militêre optrede sal die einde beteken van die NAVO militêre bondgenootskap. Volgens ʼn Deense meningspeiling glo 38-persent Dene dat Amerika onder die Trump-administrasie Groenland sal binneval. Trump het op Air Force One aan joernaliste gesê Amerika moet Groenland besit om te keer dat Rusland en China dit doen:
# Krieket: Die Durban Super Giants is weer op die wenpad na ʼn naelskraapse oorwinning van twee paaltjies oor die Sunrisers Eastern Cape in hul SA20-kragmeting in die Baai. Kaptein Tristan Stubbs het ʼn onoorwonne 47 behaal en die Sunrisers het in hul 20 boulbeurte ʼn mededingende telling van 158 vir vyf aangeteken. Daarna het Marques Ackerman 45 gemoker en die Super Giants het die teiken gehaal met drie balle oor. Die span van Durban is nou vyfde op die punteleer en staan ʼn kans om die uitspeelronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-366-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-577-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….