Nuus 08:00
BULLETIN 10 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die sewe beskuldigdes in die AKA- en Tibz-moorde word na ‘n hoësekuriteitsgevangenis oorgeplaas
# Minister Macpherson beëindig die huurooreenkoms vir die Medicare 24 Tshwane-distrik
# En die volgende Amerikaanse ambassadeur belowe om aandag te skenk aan Pretoria se geostrategiese verskuiwing
# Die sewe mans wat aangekla word van die 2023-moorde op die kletsrymer, Kiernan ‘AKA’ Forbes, en die sakeman, Tebello ‘Tibz’ Motsoane, is geskuif na die eBongweni-hoësekuriteit-gevangenis in Kokstad, KwaZulu-Natal. Die oorplasings het glo vroeër hierdie maand plaasgevind. eBongweni is bekend vir sy hoërisiko-gevangenes. Twee van die beskuldigdes, die broers Siyabonga en Malusi Ndimande, het in camera in die Durbanse Landdroshof verskyn. Hul saak is tot die vierde Maart uitgestel. Die broers het die hof versoek om hulle na die Westville-gevangenis oor te plaas vir toegang tot regskenners.
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte het ‘n waarskuwing uitgereik oor sekere gesondheidsprodukte vir kinders wat selenium en sinkpikolinaat bevat. Hierdie bestanddele word nie in gesondheidsaanvullings vir enigiemand onder die ouderdom van 18 jaar toegelaat nie weens veiligheidsredes. Yuven Gounden van SAHPRA sê sinkpikolinaat kan newe-effekte soos naarheid, diarree en braking veroorsaak, terwyl selenium ‘n risiko van oordosis by kinders inhou:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson het die huurooreenkoms met Medicare 24 Tshwane-distrik met onmiddellike ingang beëindig. Die maatskappy word verbind met Vusimuzi “Cat” Matlala, met ernstige bewerings rondom die omstrede toekenning van die huurkontrak. Volgens ‘n interne ondersoek is die eiendom nie deur die SAPD as oorbodig verklaar nie, wat die huurkontrak onwettig maak. Macpherson het ‘n volledige ondersoek belowe om amptenare aanspreeklik te hou. Hy het die belangrikheid beklemtoon van die voorkoming van misbruik van openbare fondse en om te verseker dat staatsbates in openbare belang aangewend word.
# Die EFF in Gauteng veroordeel die Gautengse Departement van Onderwys vir onreëlmatige uitgawes van 594-miljoen-rand vir mobiele klaskamers. Dumisani Baleni van die party sê hierdie wanbestuur vererger die provinsie se oorbevolkingskrisis, met vier-duisend-858 leerders wat nog nie geplaas is nie. Hy sê die EFF eis die beëindiging van opgeblaasde tydelike infrastruktuurkontrakte en vra die bou van permanente skole moet versnel word:
# Die pas ingesweerde Amerikaanse aangewese ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, sê hy sal Pretoria se geostrategiese verskuiwing na lande soos China, Rusland en Iran aanspreek. Bozell sal amptelik sy pligte aanvaar nadat hy sy geloofsbriewe aan president Cyril Ramaphosa oorhandig het. Die Amerikaanse ambassade sê hulle sien uit na sy leierskap in die bevordering van Amerikaanse prioriteite en die versterking van bande met Suid-Afrika. Sy aanstelling kom te midde van verhoogde diplomatieke spanning tussen Washington en Pretoria.
# En sokker: Die gasheerland Marokko het hul droom om die Afrikabekertoernooi voor ‘n tuisskare te wen, lewend gehou met ‘n 2-0 oorwinning oor Kameroen in die kwarteindronde gisteraand. Senegal het hul bure Mali verslaan om die laaste vier te haal. Die vleuel Brahim Diaz het in die eerste helfte ‘n doel aangeteken om Marokko te laat voorloop teen Kameroen op die Prins Moulay Abdellah-stadion in Rabat, en Ismael Saibari het die oorwinning in die tweede helfte beklink. Marokko het 22 jaar laas die eindstryd gehaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….