Nuus 08:00
BULLETIN 7 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, Andy Mothibi, is die nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging
# Die Parlement se ad hoc-komitee vergader vandag om Paul O’Sullivan te bespreek
# En Donald Trump bespreek ‘n reeks moontlikhede om Groenland te verkry
# President Cyril Ramaphosa het die Spesiale Ondersoekeenheid se hoof, Andy Mothibi, as nuwe nasionale direkteur van Openbare Vervolging aangestel. Hy vervang Shamila Batohi, wat na sewe jaar in die amp aan die einde van die maand aftree. Mothibi was nie een van die ses kandidate met wie die adviespaneel onderhoude gevoer het nie. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die paneel onder voorsitterskap van die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, het ‘n kortlys van drie kandidate aan die president oorhandig:
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat beskuldigings van politieke inmengery en korrupsie in die polisie en groter strafregstelsel ondersoek, vergader weer vandag. Komiteelede sal onder meer sy openbare deelnameproses bespreek, asook sy program oor die hervatting van mondelinge verhore, en ʼn verslag oor sake teen die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan. Die MK-party het in November strafregtelike klagte teen O’Sullivan ingedien en hom beskuldig dat hy getuies dreig en intimideer.
# Die DA het die ANC daarvan beskuldig dat hulle staatshulpbronne misbruik om partyveldtogte te voer onder die dekmantel van ekonomiese ontwikkeling in Noordwes. Die party sê die LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Bitsa Lenkopane, het ‘n amptelike departementele verklaring gebruik om die ANC se vieringe op 8 Januarie te bevorder. Jóhni Steenkamp van die DA sê die stap is onwettig en die party gaan die Openbare Beskermer nader oor die beweerde misbruik van openbare fondse en staatsplatforms:
# Die Withuis sê president Donald Trump en sy raadgewers bespreek ʼn aantal opsies om Groenland te verkry. Die meeste inwoners streef na onafhanklik van Denemarke, maar meningspeilings toon hulle wil nie deel wees van Amerika, wat reeds ʼn militêre basis op die eiland het nie. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê die gebruik van die Amerikaanse weermag is altyd tot die bevelvoerder se beskikking. Europese leiers ondersteun Denemarke en sê beginsels soos soewereiniteit en gebiedsintegriteit in die Verenigde Nasies se manifes moet nagekom word.
# Krieket: Die verdedigende kampioene, MI Cape Town, het hul eerste oorwinning in vanjaar se SA20-veldtog behaal toe hulle die Joburg Super Kings volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode met vier paaltjies op Nuweland verslaan het. Die wedstryd is weens reën tot 12 boulbeurte per span verkort. Die Super Kings se kaptein, Faf du Plessis, het 44 lopies behaal en die besoekers tot 123 vir sewe gebring. Daarna het Rassie van der Dussen en Nicholas Pooran onderskeidelik 35 en 33 aangeteken en MI Cape Town het die teiken bereik met vier balle oor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36 sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-10 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-en-874 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-474 dollar 48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-99-sent per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….